Die ekonoom Dawie Roodt aan die woord by die MOS-inisiatief se inligtingsessie. Foto: Yaël Malgas


Moedertaalonderrig is die sleutel tot kinders se sukses.

Dit is die mening van Die Moedertaal in Onafhanklike Skole (MOS)-inisiatief. Die inisiatief het verlede Woensdagaand (10 April) ’n inligtingsessie by La Pineta in Stellenbosch aangebied.

Hier het kenners soos die ekonoom Dawie Roodt en prof. Theuns Eloff meer vertel oor die ekonomiese, politieke en sosiale omstandigheid wat die groep agter die MOS – ’n private maatskappy wat in 2019 deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is – aangespoor het om met die inisiatief te begin.

André Brink van 42 Markets en mede-stigter van MOS meen die doel van die inisiatief is om kinders die beste opleiding te bied en dit beteken om kinders in hul moedertaal te onderrig.

Van die 23 000 skole in die land is slegs 1 200 Afrikaans medium-skole en die MOS meen met die voorgestelde wysigings aan die Wet op Basiese Onderwys (Bela) wat die departement van basiese onderwys wil implementeer kan Afrikaanse skole drasties verminder.

“As ’n mens in ag neem dat 7,4 miljoen mense – meer as 12% van die bevolking – Afrikaans as eerste taal praat, is dit baie duidelik dat volgehoue gehalte-onderrig in Afrikaans in landsbelang is,” sê Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van MOS.

Roodt meen die onderwys is een van die sektore met groeigeleenthede. Hy sê die belangrikheid van tegnologie in dié sektor is noemenswaardig en blyk te beweeg na ’n individuele aanslag.

Eloff het op sy beurt verwys na internasionale bevindings wat daarop wys dat moedertaalonderrig die doeltreffendste wyse is vir kinders om skoolwerk te verstaan, dit is ook glo die mees koste-effektiewe medium.

Deel van die kritiek teen die voorgestelde wysigings van die Bela-wet is die gebrek aan mag wat skoolbeheerliggame sal hê.

Dit mag moontlik beteken beheerliggame sal nie meer ’n skool se taalbeleid of toelatingsvereistes kan bepaal nie. Dit is juis hierdie vermindering van gesag oor taalbeleid wat MOS ook deur sy privaat- skole wil aanpak.

Eloff sê egter die hoop is nie net om meer Afrikaanse skole te hê nie, maar uiteindelik Xhosa- of Sotho-medium-skole en ander moedertaalonderrig-skole te hê.

Diegene by die sessie is aangemoedig om in die MOS-inisiatief sowel as die voortbestaan van Afrikaanse skole te belê.

You need to be Logged In to leave a comment.