Dr. Mariheca Otto, ’n sakekonsultant, lewensafrigter en die direkteur van Motto Business Consultants, het haar langverwagte boek En Route verlede Donderdag (10 Maart) bekend gestel.
Otto sê dit het haar bykans 20 jaar geneem om die boek te voltooi. “Dit het my vir ewig geneem. Dit was veronderstel om ’n akademiese boek te wees, en drie jaar gelede het ek weer daaraan begin werk en dit aangepas om meer toepaslik in vandag se samelewing te wees,” voeg sy by.
Sy vertel verder dat sy die boek in 2020 in Bali hervat het toe sy tydens die Covid-19-inperkings daar vasgekeer was. “Ek was veronderstel om net daar te wees om vir twee weke aan die boek te skryf, maar toe begin die Covid-inperking en ek was alleen. Ek het sommer op ’n app op my foon geskryf.”
Die tema is op Otto se Motto Gender Perception Tool, ’n opname-instrument, gegrond.
“Dit is ’n instrument oor ’n wye reeks werkplek- en persoonlike aspekte, wat met die selfpersepsies van vroue en mans sowel as hul persepsies van mekaar verband hou, ten einde groter selfbewustheid te skep.”