Die WSF-skolerugbytoernooi word vandeesweek by Paul Roos gespeel. Hier is Luke McMeeking van SACS (links) en Liberty Sibanda van die Zambezi Steelers in aksie in een van die eerste wedstryde wat Dinsdag gespeel is.


Die World Schools Festival, ’n internasionale rugbytoernooi vir o.19-rugbyspanne, het Dinsdag by Paul Roos begin.

Die rugbyfees is ’n jaarlikse instelling wat deur Carinat Sports Marketing van die voormalige Springbok-afrigter, Heynecke Meyer, aangebied word. Altesaam 20 skole van reg oor die wêreld neem aan die toernooi deel.

Dit is verlede jaar in die Paarl gehou.

Die top-10-rugbyskole in Suid-Afrika sal teen die 10 beste rugbyskole van oorsee meeding in ’n kompetisie wat soos die Ryderbeker-gholftoernooi saamgestel is.

“Ons wil hierdie toernooi die grootste skole-rugbyfees in die wêreld maak,” sê Jon Phelps, medestigter van die organiseerders.

André van Staden, rektor van Paul Roos, meen dit is ’n groot geleentheid vir Paul Roos om die toernooi aan te bied.

“Spelers kry deur hierdie wedstryde die geleentheid om met talle nuwe vriende kennis te maak en teen hulle te speel. ’n Spesiale band ontwikkel tussen die seuns – een wat die res van hul lewe gekoester moet word.”

Vandag is ’n rusdag en môre (Vrydag) speel Affies teen Italian All-Stars, Boland Landbouskool teen Napier Boys’ High, Hilton College teen USA Schools XV, Grey Kollege teen Christchurch Boys’ High en Paul Roos teen Southland Boys’ High.

You need to be Logged In to leave a comment.