Inwoners groet Steenenbrug vir oulaas

Die geskiedenis van Stellenbosch se eerste brug, Steenenbrug, is verlede Donderdag 24 Februarie in ’n kort seremonie met ’n glasie gevier toe inwoners vir oulaas die eenrigtingbrug gegroet het.


Die geskiedenis van Stellenbosch se eerste brug, Steenenbrug, is verlede Donderdag 24 Februarie in ’n kort seremonie met ’n glasie gevier toe inwoners vir oulaas die eenrigtingbrug gegroet het.

Dié brug, wat na Bosman’s Crossing lei, word herbou en verander in ’n tweerigtingbrug om die verkeersvloei te verbeter.

Die Steenenbrug was die eerste brug wat toegang verleen het tot Stellenbosch vanaf Kaapstad en is in 1691 bo-oor die Krommerivier, nou bekend as die Plankenbrugrivier, gebou.

Volgens Hannes van Zyl, voorsitter van die Greater Stellenbosch Development Trust, is die brug deur die destydse Heemraad goedgekeur.

“Die Heemraad het die projek in 1691 goedgekeur en dieselfde jaar is daar begin bou deur die twee brugbouers, Simon Janssens en Matthijs Diederick,” vertel Van Zyl.

“Die Steenenbrug is oor die afgelope 260 jaar al baie beskadig en ook baie verander, en elke keer is daar nogal hard probeer om die oorspronklike materiaal in die hande te kry en te gebruik.”

Volgens Van Zyl gaan die bouers met die herbouing van die brug weer dieselfde materiaal gebruik om die erfenis en geskiedenis van die brug te herdenk en te bewaar.

Pietman Retief, bekende gids en storieverteller, het op sy beurt ’n blik gegee op die ontstaan van Bosman’s Crossing, aanvanklik’n spoorweghalte, en die karakters wat daar gewoon het, soos René (Santy) Santhagens wat die Oude Molen-stokery daar begin het.

’n Besorgde inwoner wou tydens die seremonie weet “waarheen gaan die ou brug” en “waar kom die nuwe brug?”

Johannie Serdyn, raadslid vir Wyk 11, het hierop geantwoord dat Stellenbosch-munisipaliteit besig is om verskeie dele in die dorp te herontwikkel, waarvan die Adam Tas-korridor wat by Steenenbrug aansluit, deel van herontwikkelingsplanne vorm. “Dus is daar besluit om die brug te versterk omdat die huidige brug nie die swaar verkeer sal kan dra nie.”

Volgens Serdyn word die ou brug behou, uitgebrei en versterk om ’n tweerigtingbrug te vorm. Dit sal waarskynlik einde September voltooi wees, waarna sy aansluiting by ’n tweerigtingpad sal volg.

Vir meer inligting oor Steenenbrug se geskiedenis, sien Stellenbosch Drie Eeue en www.stellenboschheritage.org.za

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.