Eienaars van eiendom in die Stellenbosch- munisipale gebied word gemaan om hul insae te lewer vir die jongste algemene waardasielys, of hulle sal deur ’n “skerp styging” in tariewe in die gesig gestaar word.
Die jongste algemene waardasielys vir 1 Julie 2025 tot 30 Junie 2029 is nou beskikbaar vir kommentaar en die GOOD-party spoor inwoners aan om hul insae te lewer. “Inwoners oor Stellenbosch heen het hul kommer uitgespreek oor die nuwe eiendomswaardasies wat van die munisipaliteit ontvang is. Die verhogings sal tot hoër eiendomsbelasting lei en voorheen kwalifiserende huise daarvan uitsluit om die Lifeline-elektrisiteitstarief te ontvang,” het die opposisieparty in ’n verklaring gesê.
Die munisipale waardasie van ’n eiendom bepaal die tariewe en belasting wat ’n daadwerklike invloed op Stellenbosse belastingbetalers se sak sal hê. Eiendomsbelasting het in Julie in die munisipale gebied met 6,30% gestyg.
Inwoners het tot Vrydag 17 Januarie 2025 om kommentaar te lewer oor die waardasielys wat vir die daaropvolgende vier jaar sal geld.
Inwoners wat vir ’n deernis-toelae kwalifiseer, kan ook geraak word omdat eiendomswaardes ’n faktor is om vir deernis te kwalifiseer. Indien ’n eiendom op minder as R250 000 waardeer word, kan Stellenbosch-inwoners vir tot 100%-kwytskelding kwalifiseer.
Hierdie kwytskelding en die Lifeline-elektrisiteitstarief bring vir talle inwoners finansiële verligting.
“Ons het die belangrikheid van deursigtigheid, openbare deelname en gemeenskapsbetrokkenheid in ’n formele versoek aan die Stellenbosch- munisipale bestuurder beklemtoon vir besluite wat eiendomseienaars direk raak,” het rdl. Marius van Stade luidens die verklaring gesê.
Die volle waardasielys kan op die Stellenbosch-munisipaliteit se webblad verkry word. Inwoners wat beswaar wil maak teen hul eiendomswaardasie kan die nodige vorm van daar aflaai.


