‘n Groep besorgde inwoners van Stellenbosch-Suid het die afgelope Donderdag (26 Junie) die eerste stap geneem om ‘n proaktiewe aanslag tot misdaadbekamping te bewerkstellig.
Die groep inwoners van onder meer Brandwacht, Dalsig, Die Boord en Krige-ville wil probeer om hul bure aan boord te kry vir ‘n Spesiale Aanslaggebied (SAG) wat as ‘n maatskappy sonder winsbejag deur ‘n verkose komitee bestuur sal word.
Prakties sal dit beteken inwoners in die gebied sal addisionele diens en veiligheidsmaatreëls in hul buurte hê. “Misdaadbekamping het ‘n groter aanslag nodig as wat ons tans het,” sê Stephen Brink, wat in Brandwacht woon.
Brink en ‘n groep besorgde inwoners het by die Laerskool Eikestad se skoolsaal byeengekom om die moontlike stigting van ‘n SAG te bespreek. Hy sê hoewel dit die polisiediens se verantwoordelikheid is om misdaad te bekamp, is dit ook belangrik om realisties te wees oor hoeveel mannekrag in Stellenbosch beskikbaar is.
“Benewens die wonings in die gebied wat ons wil beveilig, het ons ook verskeie skole in die buurt. Ons kan nie net op die polisie of munisipale wetstoepassers staatmaak om ons kinders veilig te hou nie.”
Volgens die groep van Stellenbosch-Suid SAG het die beoogde gebied sowat 1 400 wonings.
Eiendomseienaars wat inkoop op die SAG sal ‘n bykomende maandelikse fooi betaal vir onder meer veiligheidsdienste, die instandhouding van infrastuktuur in hul buurte en gemeenskaplike gebiede, soos parke. Die fooi word bepaal op R80 vir elke R1 miljoen wat ‘n eiendom volgens die Stellenbosch-munisipaliteit se jongste waardasierol werd is.
Die groep het navorsing onder inwoners gedoen en bevind 74% van respondente het onlangs ‘n sekuriteit verwante probleem gehad, 82% van hulle glo misdaad het die afgelope vyf jaar in hul buurt toegeneem en 79% sê hulle is bekommerd oor veiligheid by en naby die plaaslike skole.
Die voorstelle is dat kringtelevisie- kameras in die beplande SAG opgerig word. Die kameras sal 24 uur per dag deur ‘n professionele veiligheidsmaatskappy gemonitor word. Veiligheidsbeamptes in motors sowel as op motorfietse sal vir patrollies verantwoordelik wees.
Soortgelyke SAG’s is reeds in ander gebiede in Stellenbosh gevestig, met die jongste SAG wat die afgelope Dinsdag (1 Julie) in werking getree het en verskeie voordele vir eiendomseienaars in die sentrale sakekern sal hê.
• Besoek https://stellenboschsra.org vir nog inligting oor Stellenbosh-Suid se SAG.