Bekommerde inwoners vereis antwoorde nadat gemengde boodskappe – dat die Franschhoek-begraafplaas hierdie naweek toe gaan wees nadat mense reeds vir begrafnisse bespreek het – die ronde op sosiale media gedoen het.
Talle inwoners was omgekrap nadat ’n e-pos-kennisgewing glo die ronde gedoen het dat die begraafplaas toe sou wees, en het hulle na die munisipaliteit gewend.
’n Inwoner wat anoniem wil bly en wie se familie hierdie naweek twee begrafnisse het, sê hulle is Woensdag in kennis gestel opgraderingswerk gaan hierdie naweek by die begraafplaas gedoen word.
“Ons het die plaaslike raadslid genader, en hulle het vanoggend (Vrydag 16 September) gesê die begrafnis kan voortgaan, maar ons kan nie ’n graafmasjien (digger loader) gebruik om die gat te grawe nie – ons moet dit met die hand doen en voor 15:00 Vrydag klaar wees,” het sy bygevoeg.
Sy sê hulle is dankbaar dat hulle wel kan voortgaan om die begrafnisse te hou, maar kla dit het baie ongerief veroorsaak.
Stellenbosch se burgemeester, Gesie van Deventer, het in ’n Facebook-inskrywing hierop gesê die munisipaliteit is net so ontsteld soos inwoners oor die sluiting van die ingang na die Franschhoek-begraafplaas, en sal Vrydagoggend (16 September) vroeg ’n dringende hofaansoek bring tensy toegang verleen word. “Ons sal nie huiwer om ons mense wat hul geliefdes moet begrawe, se belange te beskerm nie,” het sy bygevoeg.
Ds. Andrew Kok, wat verbonde is aan die Hugenote-vereniging, die eienaar van die perseel waar die begraafplaas is, sê egter die burgemeester is oningelig oor wat op Franschhoek aangaan. Hy het in kommentaar in ’n plasing op Facebook gesê ’n skuifhek word bloot geïnstalleer en die spore waarop die hek moet loop, is op ’n betonvorm.
“Voertuie moet verkieslik nie hierdie week daaroor ry nie, want die beton is nog nat. Volgende week sal die hek geïnstalleer wees en sal die lykswa weer daaroor kan ry. Verder is die voetgangershek van die museum oop en besoekers kan ongestoord na die begraafplaas gaan om hul geliefdes se grafte te besoek. Ons het gereël dat die lykswa en familie oor die spoor mag ry. Die begrafnisgangers sal ongelukkig moet instap,” het hy bygevoeg.