Inwoners van die Meerlust-bosbou-gemeenskap buite Pniël is ongelukkig oor die Stellenbosch-munisipaliteit glo sonder hul goedkeuring opslaanhuise vir inwoners van ’n naburige informele nedersetting langs die R45 opgerig het.

Volgens die inwoners het die munisipaliteit, ondanks hul beswaar teen die oprig van hierdie strukture, Donderdagoggend (24 Maart) begin deur die eerste drie huise op te rig.

Die inwoners beweer dat die grond aan die departement van openbare werke en vervoer behoort en dat die Stellenbosch-munisipaliteit nie wetlike reg het om die strukture hier op te rig nie.

Stuart Grobbelaar, woordvoerder van Stellenbosch-munisipaliteit, sê die Wes-Kaapse hooggeregshof het op 17 September 2021 ’n hofbevel uitgereik wat stipuleer dat families wat langs die R45-pad woon, na Meerlust-bosbou verskuif moet word.

“Hierdie hofbevel moet teen 31 Maart geïmplementeer wees. Indien die munisipaliteit versuim om die uitsettingsbevel teen 31 Maart na te kom, sal die geaffekteerde families deur die balju verwyder moet word en die munisipaliteit sal dan verplig wees om die koste van onder andere die balju te dra. Hierdie situasie wil ons graag vermy,” voeg Grobbelaar by.

Die inwoners beweer egter dat hulle nie geken is in ’n ooreenkoms wat in 2007 tussen die departement van openbare werke en van vervoer en die Stellenbosch-munisipaliteit aangegaan is rakende die grond nie.

Die inwoners sê hulle het op 13 Februarie 2020 met die munisipaliteit vergader en hul misnoeë uitgespreek. Volgens hulle het hulle toe die munisipaliteit ingelig dat hulle in gesprek is met die departement van landelike ontwikkeling om die grond te bekom vir landboudoeleindes vir die 30 gesinne wat op die grond woon.

Grobbelaar voeg by dat Meerlust-bosbou behoort aan die departement van openbare werke. “Die munisipaliteit is tans besig om die geaffekteerde gesinne veilig te verskuif na die betrokke stuk grond, soos in die hofbevel gestipuleer. Die munisipaliteit en die departement van openbare werke onderhandel al vir ’n geruime tyd, onder meer oor die oordrag van die grond van die departement van openbare werke na die munisipaliteit en uiteindelik na die huidige bewoners. Onderhandelings om die proses te versnel, duur tans voort.

“Hier is baie van ons wat nie huise het nie. Meer as 80 huisgesinne op Meerlust is agterplaasbewoners. Hulle sê hulle het nie plek om vir ons huise te bou nie, maar hulle kan hierdie strukture oprig vir mense wat nie eens hier woon nie. Ons het hierdie grond bewerk en nou wil ander mense hier kom plak. Ons wil dit nie so hê nie,” het ’n vies inwoner gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.