Die minister van openbare werke, Patricia de Lille, het verlede Donderdag 7 April inwoners van die Meerlust-bosbougemeenskap buite Pniël besoek nadat die gemeenskap hom tot die minister gewend het.
Dit kom nadat die Stellenbosch-munisipaliteit verlede maand 24 gesinne, wat op private grond langs die R45-pad geplak het, op Meerlust-bosbou geplaas het.
Volgens De Lille was haar besoek bloot om die gemeenskap se kant aan te hoor en soveel inligting moontlik te versamel om die pad vorentoe te bepaal.
“As openbare werke het ons nog nie ’n standpunt nie. Ons wil ’n ingeligte besluit neem en om dit te doen, moet ons al die inligting kry. Terwyl ek deur die geskiedenis- en hofdokumente gelees het, het ek besef dat daar nêrens insae is van die mense wat hierdeur geraak word en hier bly nie. Dit is hoekom ek hierheen gekom het om die mense wat hierdeur geraak word, se kant te hoor,” het De Lille gesê.
Sy het bygevoeg dat hulle steeds inligting insamel en reeds met die Stellenbosch-munisipaliteit se burgemeester geskakel het.
“Ons prokureurs is reeds aangestel. Wanneer ons al die inligting bymekaar het, sal ons besluit wat die pad vorentoe is.”
De Lille sê haar kantoor gaan ook dreigemente van die polisie en wetstoepassers ondersoek. Dreigemente is onder meer dat inwoners geskiet gaan word as hulle enigiets probeer doen.
“Ons gaan ook ’n inperkingsbevel kry om te verhoed dat inwoners van ander gemeenskappe hier kom beset, want daar is dreigemente van verdere besettings in die Meerlust-bosbougemeenskap,” voeg sy by. De Lille sê sy sal ná haar ondersoek weer terugvoering aan die gemeenskap gee. “Ek gaan weer kom wanneer die proses voltooi is, want in die hele proses is die gemeenskap nie geken nie.”