Die Hoër Meisieskool Bloemhof is een van 10 Suid-Afrikaanse skole wat gekies is om aan VIA se splinternuwe vasvra-program, Die Superskool, deel te neem.
Lauren-Lee Jacobs, Anelia Kleynhans en Danielle Louw, al drie graad 11-leerders, het in die Julievakansie aan die verfilming van hierdie reeks in Johannesburg deelgeneem.
Stephan Meyer, voormalige Afrikaans-onderwyser en nou die skool se kommunikasiebestuurder, het die span vergesel.
“In die eerste week val niemand uit nie,” verduidelik Danielle. “Ons speel net vir ’n plek op die punteleer.
Slegs die topvier-skole kon egter in die tweede week deurdring, maar julle sal self moet kyk om uit te vind wie dit is.”
Elke episode bestaan uit vier rondes – in die eerste drie neem elke spanlid aan ’n ronde deel waar geheue, die vermoë om woorde te vorm en hoofrekene getoets word. In die vierde ronde speel al drie saam om vrae oor algemene kennis te beantwoord.
Groot kontantpryse is op die spel: R50 000 vir die skool wat derde eindig, R100 000 vir ’n tweede plek en ’n tamaai R250 000 vir die wenskool.
Om uit te vind hoe die Stellenbossers gevaar het, maak seker jy skakel weeksdae om 17:00 op VIA in. ’n Omnibus word ook op Saterdae tussen 14:30 en 17:00 uitgesaai.