Kingdom Development Projects, ’n organisasie sonder winsbejag in Klapmuts, het die jaar op ’n hoë noot afgesluit deur sy uitblinkers vir 2024 op Vrydag 6 Desember te vereer. Die organisasie het by die Klapmuts-veeldoelsentrum erkenning vir die prestasies en harde werk van sy nasorg-leerders sowel as sy sokker- en netbalspelers gegee. Die prysuitdelingsaand se tema was “Glo in jouself”. Die organisasie het ten doel om kinders en jeug van die Klapmuts-gemeenskap in sport en opvoeding te dien. “Ons kon die leerders en sportvroue met die hulp van skenkers ’n ongelooflike aand bied,” het die stigter, Leticia Pietersen, gesê. Die aand se gassprekers was Nicolene Martin, die afrigter van die Southern Stings-netbalspan en ’n bestuurslid van die Kaapse Wynland-netbalfederasie en Lorenzo Arendse, die president van die Kaapse Wynland-sportraad en ondervoorsitter van die Wes-Kaap-sportraad. Pietersen het alle ondersteuners van Kingdom Development Projects bedank – veral die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit vir die ete en Zukile Mfengu van die 7de Laan Tavern vir die huur van die saal.


You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article