Jacobs nou hoof van HS Overberg

Johan Jacobs, departementshoof by die HMS Bloemhof, is as die hoof van die Hoërskool Overberg in Caledon aangestel. Hy het Woensdag 10 Maart, ná ’n lang aanstellingsproses gehoor dat hy die suksesvolle kandidaat is.


Johan Jacobs, departementshoof by die HMS Bloemhof, is as die hoof van die Hoërskool Overberg in Caledon aangestel. Hy het Woensdag 10 Maart, ná ’n lang aanstellingsproses gehoor dat hy die suksesvolle kandidaat is.

“Ons is saam met hom opgewonde oor die nuwe uitdaging,” sê me. Wilna van Heerden, die hoof van Bloemhof. “Een van ons doelwitte by Bloemhof is juis om te help om meer opvoeders gereed te maak om bevorderingsposte met selfvertroue te aanvaar.”

Wat gaan hy die meeste by Bloemhof mis? “Die noue verhouding met my leerders in die klas,” meen hy.

Jacobs is sedert Julie 2014 as opvoeder in natuurwetenskap (NW), lewenswetenskappe (LW) en wiskundige geletterdheid (WG) by Bloemhof werksaam, maar het ook as spanbestuurder vir hokkie se eerste span se gedien. Die afgelope ses jaar het baie dinge Bloemhof vir hom spesiaal gemaak. “Die leerders se maniere en werksetiek,” sê hy. “Hoe hulle aanhou baklei en ondersteun, al wen hulle nie. En hulle baadjietrots.” Hy voeg by dat dit opvallend is hoe netjies hulle altyd lyk en hoe mooi versorg die skool en die skoolterrein is.

Dit is duidelik dat sy leerders hom baie gaan mis. “Uitstekend!” antwoord ’n graad 9-klas toe hulle gevra is om Jacobs in één woord te beskryf. Ander woorde was “presies” en “passievol”. Die woord “omgee” is ook meer as een keer genoem.

“Hy was altyd só voorbereid en het hom vreeslik uitgeleef,” sê Tilla-Marié Schreuder (gr. 11) wat in graad 8 in sy NW-klas was en nou lewenswetenskap by hom neem. “ ’n Mens kan sien hy het ’n passie vir sy vakke. Mnr. Jacobs het selfs in lockdown vir ons video’s gestuur waarin hy die werk verduidelik het,” onthou sy.

Kiamé Smit (gr. 12) beaam dit. Sy het tot in graad 11 lewenswetenskap by hom geneem en onthou hoe hy hulle aangespoor het om gesonde werksetiek toe te pas. “Mnr. Jacobs was baie motiverend in die klas. Hy het altyd vir ons gesê ‘ons moet ons deeltjie doen’ en ons sal dit altyd onthou – selfs op universiteit.”

“Sy geduld was noemenswaardig,” sê Anja Visser (gr. 12) wat in sy wiskundigegeletterdheidklas was. Sy lag wanneer sy verduidelik dat die WG-klas se WhatsApp-groep ‘Welcome to the G’ genoem word. “Namens almal in sy Welcome-to-the-G-klas wil ek net sê ons gaan hom baie mis!”

Is hy reg vir die uitdaging wat die amp van skoolhoof inhou? “Gewis,” sê hy. “Ek sien uit na die uitdaging om positiewe veranderinge te maak en nuwe verhoudings met die leerders, ouers en personeel te bou.”

Jacobs sluit op 1 Mei by die Hoërskool Overberg aan.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.