Die jakarandas blom, wat beteken dit is weer eksamentyd. Vir baie is dit ’n tyd van uiterste stres; dis nie verbasend nie, aangesien eksamens van nature intimiderend is, maar tog hou dit die sleutel in om geleenthede te ontsluit.
Die simptome van eksamenstres is redelik bekend en sluit in om laag, buierig of oorweldig te voel. Fisieke simptome sluit onder andere spanning, klam hande, ’n hol kol op die maag, spierspasmas, hoofpyn, ’n vinnige hartklop of naarheid in. Lyers kan ook hul naels byt of hul tande kners, hul eetlus verloor of ooreet en kontak met vriende verloor.
Dan is daar natuurlik ook almal se grootste nagmerrie: jy vergeet alles wat jy geleer het wanneer jy na die eksamenvraestel kyk.
Goeie raad is om te onthou dat twee derdes van jongmense vlakke van eksamenstres ervaar wat hoog genoeg is om “kommerwekkend” te wees.
Maar, dr. Chido Siame, die kliniesesorghoof by Kena Health, voer aan stres moet gesien word as ’n nuttige reaksie om ons prestasie te help verbeter wanneer ons met ’n uitdaging gekonfronteer. Dit kan ook die vloei van suurstof na die brein vermeerder, wat sal help.
Navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat stres produktief kan wees as ons die regte ingesteldheid daaroor ontwikkel – om die prestasieverbeterende eienskappe daarvan te herken. In ’n ander studie het studente wat stres as ’n groei geleentheid gesien het, beter presteer en minder emosionele moegheid aangemeld.
Siame beveel die volgende aan om jou te help om jou ingesteldheid oor eksamenstres te verander:
Kry beheer oor jou gedagtes. Sê vir jouself dat die gevoelens van ongemak tekens is dat jou liggaam ingestel is om mee te ding. Rig jouself af om die eksamen as ’n uitdaging, wat jou liggaam gereed is om te oorwin, eerder as ’n bedreiging te sien. Moenie jou emosies ignoreer nie; aanvaar dit as ’n aanduiding dat die eksamen belangrik is en jy moet geestelike en fisieke hulpbronne inspan om dit te oorkom.
Doen die voorbereiding. Een van die beste maniere om stres tot jou voordeel om te swaai, is om te verseker dat jy dít doen wat nodig is om te wen. Dit beteken eerstens om ’n afwisselende en doeltreffende studieprogram te ontwikkel. Iets wat baie tot stres bydra, is die knaende gevoel dat ’n mens nie voldoende voorberei is nie. As jy voorberei is, sal jou stres iets word wat positief is om mee te werk.
Neem aksie om ’n ondersteunende omgewing te skep. Om ’n studierooster op te stel, is ’n goeie tegniek om te verseker dat jy in beheer van die situasie is (en voel).
Pas jou liggaam en gees op. Uitbranding is altyd ’n probleem wanneer jy jou vir ’n uitdaging voorberei. Maak seker dat jou liggaam baie gesonde kos, genoegsame water en dalk vitamienaanvullings kry. Moenie nalaat om elke dag te oefen nie – die ou gesegde, “ ’n gesonde gees in ’n gesonde liggaam”, is meer as net woorde! Baie mense vind meditasie en ander tegnieke soos diep asemhaal of progressiewe spier-ontspanning hulpvaardig.
Wees goed vir jouself. Jy bou vertroue wanneer jy jouself vertel dat jy dit kan doen. Moedig jouself aan, eerder as jouself te kritiseer.
Doen navorsing oor hoe om onder stres kalm te bly. Daar is altyd ’n kans dat jy in die eksamen self ’n oomblik van paniek kan ervaar, ongeag hoe goed jy voorberei het. Versamel wenke van vriende of die internet oor maniere om jou kalmte te herstel. ’n Deel hiervan sal insluit om ’n strategie te hê om jouself in die eksamen te organiseer met die regte implemente en ’n rooster vir elke vraag.
Maak staat op familie en vriende. Om ’n gesonde sosiale en gesinslewe in die intense studietydperk te handhaaf, is belangrik om jouself en jou lewe gebalanseer te hou.
“Neem al hierdie wenke in ag en plaas dit dan in ’n persoonlike eksamenplan wat vir jou werk – en sterkte!”
Moenie bang wees om geestesgesondheid-ondersteuning vir angs te vra nie. Geestesgesondheidswerkers kan jou help om angs- en stres-snellers te identifiseer en kan help met hanteringsmeganika om hierdie uitdagende tydperk te bowe te kom.