Jamestown se skoolhoofde is Wayne Anthony (Weber Gedenk Primêr), Anton Gordon (Idasvallei Primêr), Charmaine Anthony (Raithby Primêr), Burton Williams (St. Idas RK Primêr) en Rodger Cupido (Cloetesville Primêr). Foto: Yaël Malgas

Die sogenaamde “Jamestown-mafia” het vanjaar nog ‘n lid ryker geword en hierdie keer is daar ‘n roos tussen die dorings.

Jare lank word in onderwyskringe gespot oor die Jamestowners wat aan die stuur van verskeie Stellenbosse laerskole staan. Burton Williams, die hoof van St. Idas RK Primêr, Cloetesville Primêr se Rodger Cupido en Wayne Anthony van Weber Gedenk Primêr, het almal hier grootgeword, terwyl Anton Gordon, die hoof van Idasvallei Primêr, ook in die buurt woon.

Charmaine Anthony, Wayne se gade, is nou die nuutste Jamestown-hoof en is aan die stuur van Raithby Primêr.

Jamestown se skoolhoofde is Wayne Anthony (Weber Gedenk Primêr), Anton Gordon (Idasvallei Primêr), Charmaine Anthony (Raithby Primêr), Burton Williams (St. Idas RK Primêr) en Rodger Cupido (Cloetesville Primêr). Foto: Yaël Malgas

“Ek was ‘n graad-een-onderwyser vir 24 jaar en het nooit gedink aan hoof word nie,” erken sy. Nadat sy egter vir 11 maande as waarnemende hoof ingestaan het, het sy amptelik op 1 Junie as volwaardige hoof ingetree.

“Ná meer as twee dekades ken ek die skoolgemeenskap goed, maar ek moes van die grond af begin bou. In die laaste maande het ek my kennis van bestuur opgebou en ek gee nie sommer moed op nie. My man het ook gehelp om my leiding te gee,” vertel sy.

Charmaine sê haar grootste hoop is om ‘n daadwerklike verskil in die lewe van Raithby Primêr se 177 leerders te maak.

“Die skool het meer seëninge as uitdagings en daar is altyd ‘n uitweg. Wanneer jy uiteindelik terugkyk en sien wat die leerders bereik het, is al die moeiliker tye die moeite werd,” meen sy.

Maar wat is dit van Jamestown wat hoofde oplewer? “Goeie rolmodelle en onderwysers wat ‘n passie vir hul werk gehad het,” meen Cupido.

Die groep meen veral Williams se pa, Bernhard Williams, wat dekades lank aan die stuur van Weber Gedenk was, is ‘n voorbeeld van uitnemende hoofskap – ‘n feit waaroor die hoofde saamstem aangesien die gebore Jamestowners alumni van dié skool is.

“Hierdie was ‘n klein gemeenskap en hoofde, dominees en soortgelyke professies is as leiers in die gemeenskap beskou. Ons voorgangers was rolmodelle,” sê Williams, wat die eerste van die groep was wat ‘n skoolhoof geword het. “Onderwys is ‘n edel beroep. Jy moet besef jy is deel van ‘n groter stelsel en werk binne ‘n konteks. Jy het geduld, geloof en ‘n mate van kalmte nodig,” verduidelik hy.

Die ander vier deel die sentiment en Charmaine sê dit is juis hoekom sy haar hoofskap “met die Bybel in my hand” begin. “Jamestown se mafia” het dus geen sinistere planne nie. Hulle is eerder ‘n span wat kundigheid en hulp bied.

“Ek beskou my kollegas as my mentors. Indien ek vasdraai, kan ek enigeen van hulle besoek en hulle sal my leiding gee en probeer help,” vertel Gordon.

Cupido se raad aan jong en voornemende onderwysers is om aan te hou groei: “Maak gebruik van elke geleentheid, al is dit nie deel van jou take nie.”

Die dae dat Wayne skool toe gestap het met die hoop dat ‘n storm die skool se dak afwaai en die skooldag gekanselleer word, is verby. “Ons is trots om deel te wees van die Jamestown-gemeenskap. In die verlede was ons as plaasjapies en patat-trappers bekend, maar kyk net wat het hierdie gemeenskap intussen deur ons opgelewer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article