Die koue windjie en reënweer kon nie die inwoners van Jamestown se gemoedere demp tydens hul eeufees die afgelope Saterdag (28 September) nie.
Feesvieringe is in die Rynse VGK Stellenbosch se kerksaal gehou, met die vieringe wat met ’n staptoer deur die buurt begin is. Daarna het inwoners by die Ou Skoolsaal bymekaargekom vir ’n foto en dié middag is die Jamestown-museum geopen.
Die dorp is deur 25 stigtersfamilies gestig en was oorspronklik ’n plattelandse plaasdorpie, waar aarbeiboerdery ’n kenmerkende strewe geword het.
Die eerste fase van die museum is onder leiding van Jamestown Erfenis geopen. Hier word die “onvertelde” familie-verhale en foto’s gedeel.
Dale Simons, van Jamestown Trust, sê die geleentheid was ’n sukses.
“Hierdie doelwit van die museum kom reeds ’n hele paar jaar aan om ons erfenis te bewaar. Dit is die beginpunt en ons wil dit nou uitbrei oor die komende jare.
“Ons bedank veral die Rynse kerk vir hul tegemoetkoming om die museum in hul kerkgebou te laat uitstal,” sê Simons.
Kuier en praatjies was ook Saterdag op die program en die hoogtepunt van die dag was die paneelbespreking wat oor die toekoms van die dorp gehandel het. Simons verduidelik die bespreking is gereël deur die Jamestown-gemeenskapstrust. Hy verduidelik die idee is om gemeenskappe op ’n doeltreffende manier aan die praat te kry, beter as die verskeie bestaande WhatsApp-gemeenskapsgroepe.
“ ’n Plek waar mense opbouend kan praat, idees kan uitruil met empatie van wat in gemeenskappe aangaan en uiteindelik kan wegstap met die groter plan.”
Christo van der Rheede, voormalige uitvoerende hoof van Agri SA, was die hoofspreker by die geleentheid en het uitgelig hoe belangrik gemeenskapsinstansies is.
Simons sê die strewe is om aktiewe burgers in Jamestown te hê wat die dorp konstruktief opbou.
“Ons ervaar allerhande uitdagings, soos gentrifikasie, en ons as gemeenskap moet vorentoe beweeg deur ons toekoms in ons eie hande neem. Om so ons erfenis te bewaar,” sê Simons.
Chrisben van der Rheede, ’n inwoner en die voorsitter van Jamestown Erfenis, het op sy beurt namens die nuwe Jamestown-museum gepraat.
“ ’n Trotse gemeenskap met ’n ryk erfenis waar ’n verskeidenheid instellings en kundige mense bedrywig is om ’n verskil te maak. Een van die organisasies, Usiko, help byvoorbeeld om jongmense deur mentorskap te begelei om uitdagings te oorbrug en om hulle terug op skool te kry. Met die vestiging van die Jamestown Trust en onder leiding van visioenêre en toegewyde leierskap wink ’n blink toekoms,” sê Van der Rheede.
Jamestown Erfenis nooi plaaslike skole, opvoedkundige instansies, kerke, groepe, sportorganisasies, kunstenaars, sakelui en bure om hul voorstelle en aanbeveling vir die museum, erfenis en kultuur-aktiwiteite te deel.