Tafels met gemmerbier, vars groente en gebak het Saterdag (28 Junie) die sypaadjies van Webervalleiweg vol gestaan.
Die stalletjies was deel van die Jamestown-buurt se maandelikse straatmark, wat gehou word in aanloop tot die volgende Aarbei-fees – volgende jaar in November.
Volgens Dale Simons, die voorsitter van die Jamestown-erfeniskomitee, is die idee agter die straatmark vir inwoners om ‘n geldjie te maak en hul stalletjies vir die gewilde wees reg te kry.
“Ons is besig om ons greep op ons erfenis, wat arbeie en landbou betref, te verloor. Die hoop is dat die Aarbei-fees ons as gemeenskap bymekaar sal bring en dit gee ons die geleentheid vir eenheid en om saam die gemeenskap vorentoe te bou,” het Simons verlede Donderdag (26 Junie) op ‘n gemeenskapsvergadering gesê.
Die uitnodiging was oop vir inwoners om stalletjies een keer per maand op te rig, waar hulle alles van heuning tot bonsai en kuns kan verkoop. Altesaam 71 stalletjiehouers het die geleentheid benut.
Onder andere het die Hoërskool Stellenzicht groente uit sy tuin verkoop, Llewellen van de Rheede het gemmerbier verkoop en die span van Usiko het groente, aarbei-plantjies en soutighede van die hand gesit.
Die Aarbei-fees is in Oktober 2015 die eerste keer aangebied. Die twee dae lange geleentheid het onder meer kunsuitstallings, ‘n pretloop, ‘n spesiale kerkdiens, arbei-produkte en ‘n skoonheidskompetisie ingesluit. Die mees onlangse fees is in 2019 aangebied en het sowat R150 000 gekos.

Aangesien hierdie bedrag volgende jaar nog hoër sal wees, sê die komitee goeie beplanning en genoegsame tyd is nodig om die beste moontlik fees aan te bied.
In aanloop tot volgende November maak stalletjiehouers reeds seker hul produkte en bemarking is gereed. Hoewel allehande lekker eetgoed reeds beskikbaar is, glo Simons meer kuns, handewerk en vars verkope sal ‘n aanwins vir die mark wees.
Hy sê hoewel die fees ‘n groot deel van die gemeenskap se erfenis en geskiedenis is, is dit belangrik om ‘n meer moderne weergawe van die geleentheid aan te bied.
Dit beteken onder meer uitgebreide produkte, diverse stalletjies en ‘n voor- stel aan stalletjiehouers om in kaartma- sjiene vir betalings te belê. Benewens die maandelikse mark het die komitee planne om moontlik ‘n gholfdag, pretloop en bergfietsren aan te bied.
Die komitee het ook die gemeenskap genooi om hul dans- en sangtalente te verskerp aangesien optredes by die fees ook op die program sal wees.

You must be logged in to post a comment.