Gesonde werksetiek en ’n passie vir dit waarin jy belangstel.
Dít is die rede vir hul sukses, sê Jana Lötz en Ziné Ebersöhn, twee matrikulante aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, nadat hulle Dinsdagaand as die wenners van onderskeidelik die Elize Coetzee- en die Bloemhofbond-pryse, twee van die skool se mees gesogte pryse, vir 2017 aangewys is.
Jana, vanjaar se onderhoofmeisie van Huis Bloemhof, het die Elize Coetzee-prys, wat ’n studiebeurs van R20 000 insluit, gewen.
“Die prys is na Elize Coetzee, ’n vorige skoolhoof, genoem en deur wyle dr. Anton Rupert en sy vrou geskenk. Dit word jaarliks toegeken aan ’n leerder wat behalwe buitengewone akademiese prestasie ook ’n goeie leier is en met goeie inbors, lojaliteit en inisiatief optree,” verduidelik Ilze Wright, ’n departementshoof en die koördineerder van die prysuitdeling.
Ziné is vanjaar se wenner van die Bloemhofbondprys, wat aan ’n leerder toegeken word wat entoesiasme vir die skool se tradisies toon, ’n aktiewe rol in die skool speel, haar klasmaats aanmoedig om by skoolgeleenthede betrokke te raak en die Bloemhof-waardes van omgee, werksetiek, afgerondheid, respek en integriteit uitleef.
Die prys behels ’n wisseltrofee, ’n silwer armband en erelidmaatskap van die Bloemhofbond.
Dit is vanjaar die 28ste keer toegeken.
Ziné was een van agt Bloemhoffers wat vanjaar deur hul klasmaats benoem is en met wie formele onderhoude vir die toekenning gevoer is.
Die paneel het uit die oud-Bloemhoffers Santie Bredenhand, Michelé Graham, Helen Kroes, Hette-Lize Marshall en Jana Erasmus (2015-pryswenner) en die graad 12-graadhoof, Louise Joubert, bestaan.
“Ek dink sy is ’n waardige wenner. Sy leef die waardes van die skool ten volle uit en het die vermoë om samehorigheid onder haar groep te skep en te behou,” sê Maryna de Waal, die skakelpersoon vir die Bloemhofbond wat die proses oorsien het.