Eerlikheid, respek, geloofwaardigheid en integriteit was vir langer as vier dekades die hoeksteen van Jannie Louwrence se loopbaan as begrafnisondernemer.

Louwrence was vir jare aan die stuur van Avbob-begrafnisdienste en het gehelp om talle plaaslikes ter ruste te lê. Vir hom is sy loopbaan meer as net ‘n werk – hy beskou wat hy doen, as ‘n roeping; een wat ten spyte van sy vertrek van Avbob steeds nie voltooi is nie.

“Ek kan nog en wil nog tot diens wees vir my gemeenskap,” sê hy.

Louwrence (64) het nou planne om sy eie onderneming te begin en sien uit om sy roeping voort te sit.

“Ek kry koue rillings indien ek ander begrafnisondernemers hoor sê dat hierdie ‘n werk is soos enige ander, want dit is nie. Alles begin van die eerste oproep wat jy van ‘n bedroefde familielid ontvang en die diens duur tot ná die begrafnis. Ek bel gereeld nog die families om te hoor hoe dit nou met hulle gaan en of alles goed afgeloop het.”

Hierdie uitsonderlike diens is nie verbasend vir dié selferkende perfeksionis nie.

“Elke geval is so belangrik soos die ander. Ek hanteer elkeen asof hul my eie geliefde is en tot onlangs het ek al die sterfgevalle in my familie self hanteer, met my suster wat ek laaste begrawe het.

“In hierdie beroep is daar nie iets soos ‘n tweede kans nie – jy doen dit die eerste keer reg,” sê Louwrence.

Hy is in 2005 deur Doves, waar hy voor Avbob gewerk het, met ‘n nasionale toekenning vir voortreflikheid vir Tak van die Jaar in die Wes-Kaap vereer. “Dit was werlik een van die hoogtepunte van my loopbaan,” sê hy.

Louwrence het die plaaslike Avbob-tak in 2010 oorgeneem. Hy sê dit het twee jaar geneem om die onderneming na wense te kry, want die werk is veel meer as mooi woorde en blommeruikers. Hy meen om mense ter ruste te lê, raak elke aspek van jou menswees.

“Almal verdien respek. Daar is g’n verskil tussen ‘n bergie en president [Cyril] Ramaphosa nie. Jy kan nie onderskeid tref tussen ryk en arm nie. Almal is dieselfde, want almal is skeppings van God.”

Oor die jare was daar storm- agtige oomblikke. Louwrence bieg daar was tye wanneer hy een oomblik trane gestort het en die volgende ‘n bedroefde familie moes troos en bystaan.

Daar was ook sterftes wat hy nooit sal vergeet nie, soos gevalle van selfdood en moorde soos in die geval van die Matie wyle Inge Lotz. Dit is hoekom sy geloof vir hom belangrik is en hy sê hy is sedert sy dae as jongman in Worcester reeds ‘n gelowige.

Teenoor sy kliënte en medewerkers spreek hy net dankbaarheid uit dat hulle hom in van hul moeilikste tye vertrou.

Louwrence meen dit is ‘n eer om die gemeenskap in sulke tye te help.

“Dit was vir my en my vrou, Rienie, en ons dogter, Bernadette, altyd ‘n baie groot eer en voorreg om ons gemeenskap en die families en hul geliefdes oor die jare met die nodige respek en integriteit te hanteer. Ons het bykans ons hele lewe aan ons roeping gewy en was te alle tye beskikbaar.”

You need to be Logged In to leave a comment.