Die verkope van jenewer het in die afgelope jaar drie keer vinniger as dié van enige ander soort drank gestyg.
Jenewer is nou net so gewild soos whiskey en het wodka en brandewyn verbygesteek, sê Pick n Pay.
Die winkelgroep sê dis nie verbasend nie dat Statistieke Suid-Afrika jenewer pas ingesluit het in die mandjie produkte waarvan die pryse dopgehou word en op grond waarvan die land se inflasiekoers bepaal word.
Nie eens die verbod op drankverkope het die tendens gestuit nie, sê Gavin Ievers, hoof van Pick n Pay se drankafdeling.Hy sê mense het eenvoudig na alkoholvrye jenewer oorgeslaan. Dis so gewild dat Pick n Pay nou meer as 100 variëteite in sy drankwinkels het teenoor net sowat 20 tien jaar gelede.
Ievers sê nuwe jenewers word byna maandeliks aan hulle bekend gestel. Dit skep ’n uitdaging om rakruimte te kry.
Sowat ’n kwart van die jenewer op die rakke van Pick n Pay word plaaslik geskep.
Ook in ’n onlangse peiling onder meer as 33 000 Suid-Afrikaners met ’n inkomste van meer as R10 000 per maand is hulle oor hul drankverbruik uitgevra. Altesame 43% van die respondente het gesê hulle drink wyn, 33% drink jenewer en net 28% het aangedui dat hulle bier verkies.
Hier volg ’n paar wenke van hoe jy jou jenewer kan opkikker:
Gin fizz
• Ysblokkies• 60 ml droë jenewer• 120 ml vars uitgedrukte suurlemoensap• Sodawater• Suurlemoen- of lemmetjieskywe• Vars kruisementblare
Sit ysblokkies in 2 glase. Verdeel die jenewer en vars suurlemoensap tussen die glase en vul dit dan met soda. Garneer met lemmetjieskywe en kruisementblare.Bloubessie en suurlemoen gin fizz (vier skemerkelkies)• Bloubessies• 20 kruisementblare• 2 suurlemoene• ¼ koppie eenvoudige stroop• 355 ml jenewer• Sodawater• Ysblokkies
Sit in elke glas vier bloubessies, vyf kruisementblare, die sap van ’n halwe suurlemoen en 1 teelepel eenvoudige stroop. Meng die bestanddele totdat die swartbessies fyngedruk is.
Vul die glase met ysblokkies. Giet ongeveer 85 ml jenewer in elke glas en roer deur.
Bedek met soda en versier met suurlemoenskyfies, heel bloubessies en kruisementblare.