Die talentvolle Carlo Daniels skitter in sy rol as AB in Jessie, die man en die maan.Foto:


Jessie, die man en die maan is een van vele teaterstukke wat by vanjaar se US Toyota Woordfees te sien is.

Dié verhoogproduksie, wat deur Kanya Viljoen van Somerset-Wes geskryf is en deur Unusual Bones aangebied word, is van Donderdag 12 tot Sondag 15 Oktober by die Hoërskool Lückoff op die planke. Viljoen is ook die regisseur, met die talentvolle Carlo Daniels wat die eenmanstuk tot lewe bring.

Jessie, die man en die maan vertel die storie van ’n jong man, AB (Daniels), wat sy vrou, Jane, sowel as hul seun, Jessie, aan die maan verloor.

Wat aanvanklik as ’n groot liefde tussen AB en Jane begin het, verander oor die jare in ’n huwelik van pyn en misbruik – veral wanneer Jane swanger word. Sy ontwikkel tydens haar swangerskap bekkengordelsindroom, ’n toestand wat in uiterste omstandighede tot verlamming kan lei.

Klein Jessie word tydens ’n volmaan gebore, ’n gebeurtenis waaroor AB se pa hom waarsku. Tydens Jane se frustrasie met haar verlamde liggaam, bou woede en wrok in die verhouding op. Dít lei dan tot een aand waar die paartjie fisiek met mekaar word, met AB wat vir Jane stoot en per ongeluk haar dood veroorsaak.

In daardie oomblik begin Jessie ontrafel en soek na sy ma in die maan – ’n plek waaroor sy graag stories vertel het. Vir jare word dit ’n worsteling tussen ’n man, sy seun en die maan – ’n stryd wat AB ten einde verloor.

“Die verhoogstuk is ’n verkenning van mense op die periferie van die samelewing – mans en vroue wat nooit die voorreg kry om deur hul trauma te werk nie, want hulle probeer eenvoudig oorleef; mans en vroue by wie ons op straathoeke en leë ruimtes verbyloop; mans en vroue wat die trauma van geslag tot geslag aangee,” het Viljoen verduidelik.

“In die stuk word die maan ’n simbool van gebede en antwoorde; van mense wat ons verloor het, maar steeds met ons is; van groter ritmes en lotsbestemmings wat ons slegs by terugskouing kan verstaan.”

  • Kaartjies vir die vertoning kos R140 per persoon en kan aanlyn by Quicket bespreek word.

You need to be Logged In to leave a comment.