Die jeug van die gebied bekend as die Kreefgat in Idasvallei, het in aanloop tot die feestyd hul hande vuilgemaak en aan ’n skoonmaakveldtog in hul gemeenskap deelgeneem.
Die skoonmaakveldtog is Saterdag 28 Oktober deur Shincheonji Volunteers van die Shincheonji Church of Jesus, die komitee van wyk 5 en die raadslid Roy van Rooyen aangebied.
Dit is die eerste van ’n reeks gemeenskapsgebaseerde projekte wat deur die plaaslike organisasie beplan word.
“Dit was wonderlik om met die kinders te werk en hulle in te lig dat hulle in ’n skoon omgewing mag bly.
“Die projek het ten doel om hulle te wys dat hulle nie volwassenes se hulp hiervoor nodig het nie,” het Van Rooyen gesê.
Voor die skoonmaakprojek het die gemeenskap onder onwettige storting en ander maatskaplike kwessies soos werkloosheid en dwelmmisbruik gebuk gegaan.
Jeugdiges van Idasvallei en die Shincheonji Volunteers het tydens die skoonmakery rommel wat gemeenskapsparkies om Bruckner de Villiers Primêre Skool besoedel het, verwyder.
“Kinders is die toekoms van enige gemeenskap. Dis nie net belangrik om volwassenes op te voed nie, maar ons moet ook kinders oor die belangrikheid van ’n skoner omgewing opvoed sodat hulle as toekomstige ouers hul kinders dieselfde eienskappe sal leer,” het Van Rooyen verduidelik.
“Ek hoop dat ons met die Shincheonji Volunteers ’n deurlopende verhouding kan bou.
“Tesame kan ons, met die werke van God, deel wees van die opvoeding van hierdie kinders.”