Jeuguitreik kry nuwe kombuis

’n Jare lange droom van Jeuguitreik, die plaaslike kinderhuis op Stellen­bosch, het onlangs waar geword toe hulle ’n splinternuwe nywerheids- kombuis, wat die organisasie baie sal help, voltooi het.


’n Jare lange droom van Jeuguitreik, die plaaslike kinderhuis op Stellen­bosch, het onlangs waar geword toe hulle ’n splinternuwe nywerheids- kombuis, wat die organisasie baie sal help, voltooi het.

Die inwyding en opening van die nuwe kombuis het op Vrydag 24 Maart plaasgevind.

“ ’n Jaar gelede het ons nie geweet hoe ons dit gaan regkry nie,” het prof. Johan Hattingh, voorsitter van Jeuguitreik, gesê.

“Ons het geweet ons moet ons kombuis opknap, maar ons het ’n reusetekort gehad op ons bedryfsbegroting, en kapitaaluitgawes vir ’n nuwe kombuis was ver buite ons bereik. Maar ons het begin met planne, en geglo dat ons die geld daarvoor sal vind. En drie maande later is ons gebede verhoor toe die Frans Dreyer Liefdadigheidstrust (FDLT) tot ons redding gekom het met ’n wonderlike donasie vir die kombuis.”

Jeuguitreik het in Oktober verlede jaar met die installering onder die bekwame toesig van Steyn Calitz, direk­sielid vir infrastruktuur van Jeuguit­reik, begin.

Die werk is uitgevoer deur Adrian Rhode, ’n plaaslike bouaanne­mer, en die projek is sopas voltooi.

“Dit is so lekker om te sien hoe ons donasie tot praktiese implementering gelei het, en om te weet dat die nuwe kombuis ’n reuseverskil gaan maak aan die lewe van kinders,” het Estelle Dreyer, trustee van die FDLT, by die opening gesê.

Afgesien van die hoofdonasie van FDLT vir die kombuis, sê Hattingh, het ’n paar ander instansies ook meegehelp om die projek af te rond.

“Geld van Capitec, byvoorbeeld, het gehelp om die res van die aangrensende ruimtes, onder meer ’n ontspannings­gebied vir die seuns, op te gradeer. GrandWest het op sy beurt die instap-koelkas moontlik gemaak, wat bederfbare voorraad op -30 °C veilig hou.

“Dit is ’n voorbeeld van die spanwerk en ruimhartige meelewing van die breë Stellenbosse gemeenskap wat dit vir ons moontlik maak om Jeuguitreik aan die gang te hou,” het Dalene Bosman, direksielid van Jeuguitreik, gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.