JJ Kotze, haker van die DHL Stormers, het vandeesweek in absentia sy BSc Fisioterapie-graad by die US ontvang.Foto: Adam Gumbs Photography


Dit het die DHL Stormers se haker, Jean-Jacques “JJ” Kotze, weens sy verpligtinge op die rugbyveld ses jaar geneem om sy BSc Fisioterapie-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) te voltooi, maar nou kan hy dié kwalifikasie amptelik agter sy naam skryf nadat sy graad by die Desember-gradeweek aan hom toegeken is.

Hy moes egter sy graad in absentia ontvang, aangesien hy tans in Londen is vir die Europese Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Harlequins.

Net nadat Kotze in 2019 vir die “uitdagende” vierjarige BSc Fisioterapie-program ingeskryf het, is hy ’n kontrak aangebied om vir die DHL Stormers te speel. Toe die pandemie egter die volgende jaar toeslaan, is hy gedwing om sy rugbyloopbaan op te skort. Dit het hom die geleentheid gegee om op sy studies te fokus.

Maar toe hy in 2021 sy DHL-Stormers-debuut maak, het dit nog groter uitdagings ingehou om te studeer namate die eise van sy professionele rugbyloopbaan toegeneem het. “Ek en my dosente moes meer kreatief wees om ’n manier te vind om my droom te verwesenlik om ’n fisioterapeut te word. Ek moes dus my derde en vierde jaar verleng om al die praktiese ure en teorie tussen al die oefensessies en wedstryde in te pas.”

Sy raad aan ander aspirant- professionele atlete wat sport en studies balanseer, is om hul tydsbestuur en prioritiseringsvaardighede op te knap. “Wees ook eerlik oor jou bedoelings en motiverings vir albei en maak seker jy het ’n baie goeie ondersteuningstelsel om jou, of dit nou familie of vriende of dosente en mentors is.”

Volgens Leoné Williams, ’n senior dosent in fisioterapie, het Kotze ten spyte van die strawwe eise van sy rugbyloopbaan saam met sy fisioterapiestudies “soveel ywer, toewyding en passie getoon dat hy respek by almal wat hy gedurende sy studiejare teëgekom het, afgedwing het”.

Die voormalige Paul Roos Gimnasium-speler sê die menslike liggaam, oefening en gesondheid het hom nog altyd gefassineer. En dit het ook “redelik goed” met rugby ingeskakel, voeg hy by. “Om te sien hoe betrokke ons spanfisio’s altyd by ons herstelprosesse (van die aanvanklike besering totdat jy terug op die veld is) is, het dit my laat besef dat ek myself in daardie loopbaan kan sien.”

Kotze se langtermyn-rugbydoelwit is om ’n lang loopbaan op die rugbyveld te hê en rugby te speel – die sport waarvoor hy so lief is. Dit beteken dat hy sy sport met dieselfde toewyding en intensiteit sal aanpak as waarmee hy sy studies getakel het.

“My planne vir nou is om my aandag by my rugbyloopbaan te bepaal en om te sien hoe ver ek myself kan druk. Maar ek wil regtig ook op hoogte bly van die wêreld van fisio- en gesondheidsorg en ek oorweeg dit steeds om in vakgebiede soos sport en hoë prestasie verder te studeer.”

You need to be Logged In to leave a comment.