Bloemhof se jaarlikse graad 8-markdag is Vrydag 26 April gehou.
Die doel van dié projek is om aan die gr. 8’s die geleentheid te gee om hul eie sake-idee te bedink, ’n sakeplan saam te stel en op Markdag hul produkte aan “klante” –?die res van die skool en onderwysers – te verkoop. Dit is deel van hul ekonomiese en bestuurswetenskappe (EBW)-kurrikulum.
Liezl Potgieter, wat die projek vanjaar bestuur het, verduidelik dat leerders hul eie inisiatief kon gebruik om die tema “Statebondspele” te ontgin, maar moes minstens een sout- of gesonde eetbare produk aanbied.
“Die graad 8’s moes marknavorsing doen om uiteindelik te bepaal wat die behoefte van die skool is en alle reklamemateriaal moes van herwinbare materiaal gemaak word.”
In die week wat tot Markdag gelei het, het kleurvolle advertensies Bloemhof se gange versier. Uiteindelik, nadat elke groep entrepreneurs se stalletjies beoordeel is, is die sentrum se deure geopen vir die stormloop van honger Bloemhoffers.
“Die dag was ’n groot sukses. Die graad 8’s het ’n wins gemaak wat in kennis én geld geweeg kan word,” meen Potgieter.