Familie, vriende en leerders van die Hoërskool Lückhoff het die afgelope Donderdag (25 Julie) by ’n gedenkdiens van Tristan Willemse (16) afskeid geneem.

’n Seun “wat jy deur ’n ring kon trek met ’n lekker lag en energie wat aansteeklik was” – dit is hoe mede-leerders Tristan sal onthou nadat hy dood is toe hy en vriende Sondag 14 Julie ’n rit onderneem het. Die groep het op die R44-aansluitingsbrug in Somerset-Wes in ’n ongeluk beland, wat Tristan se lewe geëis het.

“Hy was altyd bereid om ander te help,” het Haylene Lawrence vertel. Haylene het gesê Tristan het ’n skerp sin vir humor gehad en was die een in hul vriendekring wat toegesien het dat almal ná ’n kuier veilig by die huis is.

Jeslin Joubert het Tristan se geliefdes in haar boodskap bemoedig om hul goeie herinneringe oor die jong man te koester en te onthou watter lig hy in hul lewe was. Joubert het ook haar eie herinneringe van Tristan en hul dae saam by die Sondagskool gedeel.

“Ons moet daar wees vir mekaar. Dit is iets wat Tristan altyd uitgeleef het. Hy het dit nie net in sy geloof uitgeleef nie, maar ook in sy liefde vir God. Hy het almal altyd met ’n glimlag gegroet, al het hy self ’n slegte dag gehad.

“Wanneer jy hom sien aankom het, het hy reeds geglimlag. Sy geloof was alles en hy het die lesse wat hy Sondae ontvang het, uitgeleef. Hy het selfs Vrydae ander jongmense saam na die jeugsaamtrek gebring,” het Joubert verduidelik.

Die skoolhoof, Chris Jooste, het die leerders aangemoedig om die beste van die res van die jaar te maak. Volgens Jooste was Tristan op pad om akademies goed te vaar en het homself uitge­daag om in die tweede helfte van die jaar nog beter te vaar. “Hy was ’n jongman wat homself laat geld het. So jonk soos hy was, het hy opgestaan vir dit waarin hy geglo het. Ek het die seun gesien met lang sokkies, ’n kortbroek en sy baadjie – jy kon hom deur ’n ring trek,” het Jooste gesê.

Hy het bygevoeg Tristan was ’n trotse en waardige leerder van Lückhoff.

Tristan het by sy grootouers gewoon en volgens hulle is die verlange steeds groot en die aanpassing om hom nie in die huis te hê nie, bly ’n groot aanpassing.

Tristan is Saterdag vanuit die Idasvallei Calvynse kerk ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.