Twee Stellenbossers is verlede week as twee van News24 se 100 Jong Mandelas vir 2023 aangewys. Etienne Basson en Eon Hendrickse van die Idasvallei-gemeenskapstaproete is as Jong Mandelas in die afdeling klimaatgeletterdheid en volhoubaarheid aangewys.
Die twee Jong Mandelas sê dit is ’n wonderlike en ongelooflike gevoel om erkenning te kry vir die harde werk wat hulle agter die skerms doen.
“Hierdie toekenning behoort aan al die gemeenskapslede, organisasies, besighede, familielede en almal wat in my belê en my ondersteun. Hierdie toekenning is vir elke jong seun en meisie wat na my opkyk en ’n droom het om ’n verandering in hul gemeenskap en omgewing te maak,” sê Hendrickse.
“Ek doen wat ek doen, want ek leef volgens die waardes van ubuntu, wat ek is omdat jy is. Ek glo ??ons moet almal aktiewe burgers wees en dis ons plig om ’n stem vir die stemloses te wees. Ek doen wat ek doen, want ek hou daarvan om die beste uit ander te haal en geleenthede te skep vir ander, die geleenthede wat hulle nie altyd in hierdie dorp sien of kry nie,” voeg hy by.
Basson sê dit was altyd sy passie om ander te help. “As iemand hulp vra, sê ek weinig nee. Ek wil ook iemand wees wat ek nodig gehad het toe ek ’n tiener/student was, wat my kon help en advies gee. So deur die werk wat ek doen, probeer ek (terwyl ek nog met jonger mense kan relate) hulle help om hul pad te vind en bewus te wees van die struikelblokke. Die plek waarin ek die gemaklikste is, is buite in die natuur. So ek gebruik dit as ’n plek vir myself en ander, van leer, groei en net mens wees.
“Ek besef elke dag dat daar nog so baie is om te doen en so baie mense en gemeenskappe is om ’n verskil in te maak. So dis meer die mense en gemeenskappe wat ’n impak en verskil in my lewe maak,” voeg Basson by.
Hendrickse sê baie mense leef steeds in armoede as gevolg van ’n gebrek aan eenvoudige vaardighede.
“Daarom fokus ons by die Idasvallei-gemeenskapstaproetes op vaardigheidsontwikkeling van jongmense.
“My boodskap aan die jeug is om hulself te leer oor die geskiedenis van hierdie dorp. Ek wil hê hulle moet hulself toerus met die nodige vaardighede om veerkragtig te wees. Ek wil ook hê jongmense moet eienaarskap van hul gemeenskappe neem en gebruik wat hulle het om te word wat hulle wil hê. Droom, jong seun en meisie, droom,” sê Hendrickse.
Basson se raad aan jongmense is om nooit op te hou werk vir wat jy wil hê nie. “Niks wat die moeite werd is kom oornag nie.”