Drie talentvolle musikante van die Universiteit Stellenbosch (US) en ‘n jong pianis van Paul Roos Gimnasium (PRG) is onder die 24 opkomende sterre van oor die land heen wat as finaliste vir die 2025- nasionale jeugmusiekkompetisie (NJMK) gekies is.

Die pianis Helena Kriel (19), die marimba-speler Kyrah Adams (19) en die saksofonis James Cilliers (19) is die drie Matie-studente wat as finaliste gekies is. Die talentvolle pianis Hermanus Schmidt van PRG is ook vir die gesogte musiekkompetisie gekies. Dié inwoner van Somerset-Wes, wat slegs vyf jaar gelede in die Covid-19-grendeltyd klavier begin speel het, sal hoop om vanjaar sy weg tot in die top-drie te baan nadat hy verlede jaar na die kompetisie se eindronde deurgedring het.

Die kompetisie vind van Maandag 1 tot Saterdag 6 Desember in die Endler-saal in Stellenbosch plaas. Die 24 finaliste is ná video-oudisies deur ‘n paneel gevierde musici uit 35 inskrywings gekeur.

Dié kandidate, tussen die ouderdomme van 14 en 19 jaar, sal in die week lange kompetisie vir die prysgeld van R180 000, die gesogte wentitel sowel as goue, silwer- en bronsmedaljes meeding.

Die kompetisie word oor vier rondes in vyf afdelings vir orkes-musiekinstrumente beslis – klavier, stryk-, houtblaas-, koperblaas- en ander orkesinstrumente (harp, slagwerk, marimba, xilofoon, ens). Vanjaar kraai die pianiste koning met 11 mede-dingers, gevolg deur vyf tjelliste, drie saxofoonspelers, twee violiste en ‘n fluit-, ‘n hobo- en ‘n marimbaspeler.

“Die 13 nuwelinge onder vanjaar se deelnemers illustreer die diepte van klassieke- musiekonderrig in Suid-Afrika,” sê prof. Mario Nell, direkteur van die NJMK. “Die drie pilare van hierdie kompetisie is om die land se opkomende klassieke sterre te identifiseer, bloot te stel en te ontwikkel.”

In die vyf dae lange wedstryd moet die deelnemers ‘n wye repertoire van hul eie keuse speel. Dit dek verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies. Al die mededingers sal in die eerste twee rondes speel. Daarna sal 12 semi-finaliste in die derde ronde (halfeindronde) meeding om die voorste ses musici aan te wys.

Die leidende ses kandidate sal dan sake by ‘n galakonsert op Saterdag 6 Desember uitspook, begelei deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO).

Die wenner en finale ranglys van die NJMK word kumulatief oor vier rondes bepaal. Dit is die enigste kompetisie in SA waar die ses finaliste, begelei deur die KFO, sake vir die louere uitspook.

Die vierde ronde se galakonsert sal regstreeks op die NJMK se webblad gestroom word.

Die jongste sterre (15 jaar oud) kom uit die Wes-Kaap. Sewe mededingers is eerstejaarstudente van die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van Pretoria en die US, terwyl die res van die kandidate ‘n verskeidenheid streke verteenwoordig.

Die beoordelaars en kaartjiepryse vir die galakonsert sal nader aan die kompetisie aangekondig word. Toegang tot die eerste drie rondes van 1 tot 4 Desember is gratis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article