Paul Roos Gimnasium (PRG) se twee toneelgroepe het hul nuutgeskepte toneelstukke die eerste keer op 25 en 26 Julie het voor gehore opgevoer.
PRG-toneelweek is ’n spesiale week in die PRG-kultuurprogram, waartydens Paul Roos se jong akteurs die kans kry om die twee toneelstukke, wat hulle vir verskeie tienertoneelkompetisies ingeskryf het, voor ’n ondersteunende gehoor te toets.
Die PRG-leerders en hul vriende van omliggende skole het Dinsdagaand (25 Julie) in groot getalle opgedaag om – soos die tradisie vereis – hul mede-leerders te ondersteun.
PRG se kultuurborge, PRG-personeel sowel as personeel van buurskole, ouers en familielede het die geleentheid Woensdagaand geniet om Broers en Valdeur te kyk.
Beide stukke is goed ontvang.
PRG het ook aan die Klein Libertasteater-tienertoneelfees (27 Julie tot 1 Augustus 2023) deelgeneem. PRG het Dinsdag (1 Augustus) beide Valdeur en Broers by dié tienertoneelfees by die Hoërskool Stellenbosch opgevoer.
Vrydag (4 Augustus) sal Paul Roos se twee produksiespanne die pad Fraserburg toe aanpak, waar hulle aan die Fraserburg-Logan-toneelfees gaan deelneem. Die Paul Roosers speel as deel van die oggendprogram by die Hoërskool Fraserburg.
Hierdie twee kompetisies word gevolg deur die Hoërskool Durbanville-toneelfees op 15 Augustus.
Daarna volg die groot en senutergende hoogtepunt – die streekronde van die ATKV-tienertoneelkompetisie – wat op 26 Augustus by die Baxter-teater in Kaapstad plaasvind.