Gizelle Abrahams, ’n leerder aan Hoërskool Kylemore en Boland-vrouekrieketspeler, is ’n klassieke openingskolwer en kranige draaibouler wat op ’n nasionale verhoog naam maak.Foto:

Credit: SYSTEM

’n Jong veelsydige krieketspeler van Lanquedoc in die Dwarsrivier-vallei, droom om eendag in die groen en goud van die Proteas-vrouespan uit te draf en haar naam in internasionale krieket se geskiedenisboeke te sien.

Die talentvolle Gizelle Abrahams se reis om haar droom te bewaarheid is goed op dreef ná sy onlangs as die beste speler in Krieket Suid-Afrika (KSA) se o.19-meisiestoernooi vir 2022 tydens die KSA Pathway-prysuitdeling by Vodaworld in Johannesburg aangewys is.

Tog was die erkenning op nasionale vlak nie ’n verrassing vir die 18-jarige nie. “Ek het geweet ek gaan die toekenning wen, maar my familie was baie verras.

“Ek is altyd baie positief. Ek het tydens die toernooi in Bloemfontein goed gevaar en het geweet ek staan ’n goeie kans.”

Tydens die toernooi, wat verlede Desember in die Vrystaat gehou is, het dié Boland-speler 12 paaltjies geneem en 52 lopies aangeteken in haar span se vier wedstryde. Dit was veral die 28* lopies en boulsyfers van 5 / 17 teen Oostelikes op die eerste dag van die toernooi wat die draaibouler en openingskolwer die troefkaart gebied het.

“Ek is baie trots op my prestasie en hoop om nog beter in die toekoms te vaar. Dit is veral ’n eer om by dieselfde prysuitdeling as die senior Proteas-spanne vereer te word.”

Haar prestasies op die veld het haar ook ’n plek in die SA Skole se o.19-meisiespan verseker.

Die Hoërskool Kylemore-leerder is as 12-jarige aan dié sportsoort bekend gestel. Sy het toe as gr.6-leerder met seuns gespeel, maar het gou by die vrouespan van die Coronation-krieketklub in Pniël aangesluit.

Slegs een jaar ná sy die sport begin beoefen het, is Abrahams as 13-jarige, die jongste speler nog, in die Boland o.19-meisiespan opgeneem. Sedertdien is sy elke jaar deel van dié span.

Dis veral die kolf- en veldwerk wat Abrahams die meeste van die sport geniet, en sy werk ook graag aan haar fiksheid om nie net beter op die veld te kan presteer nie, maar ook om beter te konsentreer wanneer sy kolf.

Abrahams spog met 103* lopies as haar beste kolfbeurt, met die 5 / 17 teen Oostelikes as haar beste boulsyfers. Haar gunstelingspeler is die Protea-vrouespeler Marizanne Kapp. “Soos ek is sy ook ’n veelsydige speler wat goed boul, kolf en veldwerk doen. Ek hou ook van die aggressie wat sy op die veld ten toon stel.”

Sy is vasberade om in die toekoms vir die Proteas-vrouespan te speel, en glo met haar godgegewe talent, harde werk, deursettingsvermoë en ywerigheid is dit moontlik. Abrahams beplan om aanstaande jaar haar studies in onderwys of terapie voort te sit.

Nou fokus sy eers op haar skoolwerk en haar deelname aan die winteroefengroep van die o.19 Boland-meisiespan.

You need to be Logged In to leave a comment.