Jong vrou vas oor dwelms

’n Vrou in haar vroeë dertigs is Vrydag (6 Mei) deur lede van die Stellenbosch-polisie vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.


’n Vrou in haar vroeë dertigs is Vrydag (6 Mei) deur lede van die Stellenbosch-polisie vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.

Die inhegtenisneming het plaasgevind nadat ’n lid van die gemeenskap die polisie oor die moontlike vervoer van dwelms ingelig het. Volgens kaptein Natalie Martin het lede van die Stellenbosch-polisie se sigbarepolisiëringseenheid omstreeks 14:00 die inligting opgevolg en ’n wit bakkie agtervolg.

“Die bestuurder van die bakkie is in die Stellenbosch-middedorp afgetrek en die voertuig is deur die polisielede vir dwelms deursoek,” het sy verduidelik. “Terwyl hulle die voertuig deursoek het, het die lede ’n wit handsak met 230 pakkies tik gevind. Die verdagte, ’n 31-jarige vrou, is vir die besit van dwelms in hegtenis geneem en het Maandag (9 Mei) in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.”

Die uitkoms van die verdagte se eerste verskyning was teen druktyd nie bekend nie.

Martin het die gemeenskap vir hul samewerking en die inligting wat tot die inhegtenisneming gelei het, bedank. “Die Stellenbosch-polisie verseker die gemeenskap dat alle inligting wat verskaf word as anoniem hanteer sal word. Die polisie onderneem ook om gereelde operasies uit te voer om die dwelm-euwel in die gebied hok te slaan.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.