Die Ruth Women Rising-organisasie (RWR) in samewerking met die Hazendal-Wonderdal- opvoedkundige sentrum het onlangs 60 kinders van Cloetesville en Morgenhof-plaas op ’n opvoedkundige uitstappie geneem. Agter staan (van links) Mondré Bessick, Carl Krieling, Jo-Marie Appels, Esta van Zyl, Christolene Arnoldus, Janine Jason, Melicia Hektoor en Caitlin McKinnon. Voor hurk Nadine Hendrikse, Tiffany Woodman, Kay-Dee Adams en Melrisha Hendrikse.


’n Groep jong vroue van Stellenbosch wil ’n verskil in hul gemeenskap maak deur opheffingswerk te doen waar en hoe hulle kan en hoe klein ook al.

Ruth Women Rising (RWR), ’n organisasie sonder winsoogmerk, is deur twee niggies begin weens ’n behoefte na meer gemeenskapswerk tydens die Covid-19-pandemie.

Melrisha Hendricks van RWR sê hulle was by verskeie organisasies betrokke, maar het besef ’n spesifieke nood heers in gemeenskappe tydens die Covid-19-pandemie, en het toe dadelik ingespring om te help.

“Ons is ’n nuutgestigte nieregeringsorganisasie wat daarop fokus om ons gemeenskap deur ons geloof te dien. Ons streef daarna om die mense in ons gemeenskappe hoop te gee. Ons voorsien hulle van voedsame kos oor sekere naweke en soos ons kan,” sê Hendrikse.

Die vroue sê hulle probeer meer standhoudend wees deur drie maande op ’n keer in sekere gemeenskappe te werk en die spesifieke nood van elke gemeenskap identifiseer en die uitdagings die hoof te bied en waarde tot die gemeenskap te voeg.

“Namate die organisasie groei wil ons die ontwikkeling van kinders en jong vroue by ons program voeg,” voeg Hendrikse by.

Die vroue is nie ver agter hul ideale nie en het onlangs met kinderontwikkeling begin toe hulle ’n groep kinders vir ’n opvoedkundige uitstappie na die Wonderdal- opvoedkundige sentrum geneem het.

“Hierdie geleentheid was vir 60 kinders tussen vyf en 13 jaar en hulle is op drie geleenthede in groepe van 20 gehuisves. Twee groepe van 20 kom uit die Cloetesville-omgewing en een groep van die plaas Morgenhof. Hierdie plaas is ook die RWR se ‘bab,’ wat saam met ons ‘grootword’ en waarmee ons die afgelope twee en ’n half jaar al werk.”

Hendrikse sê elke gemeenskap het baie kinders wat nie sulke geleenthede kan ervaar nie, en daarom is die RWR-organisasie baie dankbaar vir kanse soos hierdie.

Die RWR is beplan tans hul jaarlikse Santa Shoe Box-projek, asook ’n komende geldinsamelingsveldtog.

“Ons wil baie dankie sê aan Wonderdal wat hul deure vir ons gemeenskap se kindertjies geopen het en die geduld waarmee hulle die kinders gehelp het. Ons bedank ook almal in die groter gemeenskap vir elke skenking en almal se mooi wense,” sê Hendrikse.

You need to be Logged In to leave a comment.