Vera van der Merwe, ’n gr. 10-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, met die bronsmedalje wat sy in Turkye verower het.


Vera van der Merwe, ’n gr. 10-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, is een van twee jong aspirant wetenskaplikes van Suid-Afrika wat medaljes verower het nadat hulle hul wetenskaplike navorsing by vanjaar se Buca- internasionale musiek-, wetenskap- en ingenieurswese-energiefees (IMSEF) in Izmir, Turkye, uitgestal het.

Van der Merwe het ’n bronsmedalje in die biologie-afdeling gewen, terwyl Inge Higgins, ’n gr. 9-leerder van die Hoërskool Menlopark, ’n silwermedalje in dieselfde afdeling verower het. Hierdie merkwaardige prestasies is by die internasionale fees van Maandag 20 tot Saterdag 25 November behaal.

Albei leerders is deur die Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes die geleentheid gebied om na Turkye te reis en aan die fees deel te neem.

Van der Merwe, wat haar navorsingsprojek oor “Die uitwerking van skaapdigtheid en lengte van steurnis op prosopis-saailingkieming” aangebied het, het haar opgewondenheid uitgespreek toe sy die toekenning ontvang het. Sy het haar dankbaarheid teenoor haar ouers, mentor, skool en Eskom Holdings, deur die Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes, vir hul onwankelbare ondersteuning gedurende die reis uitgespreek.

“Die Buca-IMSEF het my blootgestel aan die baie geleenthede wat in die lewe bestaan. Dit was ’n wonderlike ervaring om mense van oor die wêreld heen te ontmoet en die verskillende kulture te ervaar. My grootste droom was altyd om deur die wêreld te reis, en die daguitstappies om Izmir te verken, was ’n groot hoogtepunt vir my – dít en vriende maak met die ander jong wetenskaplikes van oor die wêreld heen,” sê sy.

Van der Merwe het verder ander jong wetenskaplikes aangemoedig om nooit toe te laat dat klein terugslae of mense se menings hulle keer om hul ware potensiaal te bereik nie.

“Die pad na sukses is ’n lang pad wat baie harde werk verg, maar die belangrikste deel van die proses is hoeveel pret jy gedurende jou reis het. Geen idee is te klein of onbeduidend nie. Jy moet leer hoe om jou idees uit te druk en pret te hê terwyl jy dit doen,” sê sy.

Leerders uit 14 lande het aan vanjaar se IMSEF-kompetisie, wat op jong leerders gemik is, deelgeneem, met projekte wat in alle velde van wetenskap, ingenieurswese en musiek aanvaar word.

Mologadi Motshele, die waarnemende uitvoerende hoof van die Eskom-ontwikkelingsfonds, het die twee leerders met hul prestasies gelukgewens.

“As die hooffinansierder van die Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes is ons uiters trots om ons twee jong leerders, wat Suid-Afrika in hierdie kompetisie verteenwoordig en ’n groot merk op die globale wetenskaplike verhoog gemaak het, te sien,” sê sy.

“Die Eskom-ekspo dien as ’n noodsaaklike platform om leerders van oral in die land in staat te stel om nie net hul eie vaardighede te kweek nie, maar ook om deur wetenskaplike kennis positief tot ons nasie by te dra.

“Eskom Holdings as ’n maatskappy, deur die Eskom-ontwikkelingsfonds, vervul ’n deurslaggewende rol in die koestering van navorsing, sowel as ontwikkeling en vernuwing in wiskunde, wetenskap en tegniese vaardighede, om ’n helderder toekoms vir ons land te bevorder,” sê Motshele.

Parthy Chetty, uitvoerende direkteur van Eskom-ekspo, sê dit is baie bevredigend om twee jong gemotiveerde meisies soos Inge en Vera op die internasionale verhoog te sien meeding en wen.

“Suid-Afrika het elke keer as ons jong wetenskaplikes by Buca-IMSEF meegeding het, pryse gewen, wat getuig van die gehalte van die inisiatiewe wat deur die Eskom-ekspo aan die leerders in ons land gebied word. Die finansiering van Eskom het noodsaaklik geword vir die skep van hierdie unieke platform vir die leerders deur die ekspo, wat daarop gemik is om toekomstige wetenskaplikes en ingenieurs vir ons land op skoolvlak te ontwikkel.”

Registrasie vir die 2024-Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes open Maandag 15 Januarie. Leerders van gr. 4 tot 12 en NC2- tot NC4-leerders van tegniese en beroepsopleidingskolleges (TVET) kan registreer by www.exposcience.co.za en hul navorsingsprojekte oplaai.

You need to be Logged In to leave a comment.