Dit was Saterdag (19 Oktober) in Idasvallei ’n geval van trippe trappe trone danksy Cycle2Ride en Dirtopia se kortbaan- fietsren.
Jong fietsryers van wyd en syd het na die plaaslike sportterrein gekom om aan die onderskeie wedrenne deel te neem. Die doel van die geleentheid was onder meer om fietsry in die gemeenskap ’n hupstoot te gee. Talle plaaslike kinders is na die geleentheid genooi en diegene wat nie self ’n fiets gehad het nie, is deur Avalanche SA met ’n ryding vir die dag gehelp.
Eon Hendrickse van Idasvallei-gemeenskapsroetes sê dié organisasie probeer kinders deur middel van fietsryprogramme aktief besig hou met fietsry in Stellenbosch.
“Stellenbosch is bekend as die mekka van fietsry, maar omdat dit so ’n duur sport is, is dit moeilik vir ons om toegang te kry tot dae soos hierdie en selfs goeie fietse.
“Hierdie geleentheid is bewys dat Idasvallei ’n mulitsport-gemeenskap is en in staat is om kompetisies soos hierdie aan te bied,” meen hy.
Die dag het ook as die amptelike einde van die Cycle2Ride se Wes-Kaapse kortbaan-liga gedien. “ ’n Hartlike dankie aan ons borg, EduInnov8 Foundation, wie se vrygewige ondersteuning hierdie geleenthede moontlik gemaak het. Ons betuig ook ons ??diepste waardering aan die toegewyde span agter die skerms, wie se harde werk hierdie gebeurtenisse ’n werklikheid gemaak het,” het die organisasie in ’n verklaring gesê.
Onder die plaaslikes wat op die podium geëindig het, was Orlando de Koker van Idasvallei Primêr, wat in die sub juniors – primêre skool – deelgeneem het.
Dominique Taljaard, van die Hoërskool Stellenbosch, het silwer in die meisies-hoërskoolafdeling losgery en Chuma Mdlungu en Kelvin Falinya van die Hoërskool Prochorus het onderskeidelik silwer en goud in die seuns-hoërskoolafdeling verower.
Hendrickse meen die glimlagte op kinders se gesig en die samesyn van ouers was die hoogtepunt van die dag. “Ons besef weer die krag van sport om mense van alle oorde bymekaar te bring en hoop te gee aan kinders van veral voorheen benadeelde gemeenskappe.”
Hy meen die buurt is een trap nader om fietsry as sportsoort in die gemeenskap te vestig.
Hendrickse bedank die Idasvallei-sportraad wat die dag moontlik gemaak het sowel as Dirtopia se Meurant Botha, Cycle2Ride asook al die kinders en hul ouers wat die dag bygewoon het.
“Ons hoop om op dieselfde vlak te kom soos Song.info in Khayamandi en Procherus in Jonkershoek. Ons hoop om samewerking te kry van fietswinkels en die fietsry-netwerke in Stellenbosch,” verduidelik Hendrickse.