Jonges raap landboupryse op

Stellenbosch se agri-werkers is die ruggraat van die plaaslike landbousektor en is Donderdag (25 Julie) vir hul merkwaardige bydraes vereer.


Stellenbosch se agri-werkers is die ruggraat van die plaaslike landbousektor en is Donderdag (25 Julie) vir hul merkwaardige bydraes vereer.

Die plaaslike ronde van die jaarlikse Wes-Kaap Prestige Agri-prysuitdeling is verlede week by die Doornbosch-sentrum gehou. Volgens die organiseerder Colette Davids van die Stellenbosse Landbougenootskap het vanjaar se inskrywings puik wenners opgelewer. “Daar was ’n paar uitblinkers wat vir die eerste keer deelgeneem het, maar daar was ook die bekendes wat ons jaar ná jaar sien. Aanhouers wen en dit is wonderlik om te sien hoe die bekende name oor die afgelope tydperk gegroei het,” meen sy.

Inskrywings vir die kompetisie het vanjaar tot 102 gegroei nadat 81 werkers verlede jaar deelgeneem het.

Darryl Jacobs, adjunk-direkteur-generaal: landbou-ontwikkeling en ondersteunings­dienste in die provinsie, was die gasspreker by die geleentheid en het die werkers vir hul bydrae tot die landbousektor bedank.

“Ons vier jul toewyding aan jul handewerk. Julle, as deel van die sektor, wys jaar op jaar sy veerkragtigheid en aanpasbaar­heid in die moeilikste omstandighede. Jul passie vir die werk skyn ten spyte van oorstromings, moeilike ekonomiese omstandighede of siektes deur,” sê Jacobs.

Hy meen met kundigheid, passie en sin van gemeenskap wat in die plaaslike sektor heers, is die toekoms van landbou in die provinsie blink.

Die deelnemers het meegeding in die afdelings algemene werker, drywer, diereproduk­sie, besproeiingspesialis, tegniese operateur, maatskaplike ontwikkeling, administratiewe personeel, voorman, junior bestuur, middelbestuur en beste potensiaal, en die groot prys van die aand was die Stellenbosch- Prestige Landbouwerker van die Jaar 2024. Dié top-landbouwer­ker van die streek sal nou aanbeweeg na die volgende ronde van die kompetisie, waarna die provinsiale wenners uiteindelik gekroon sal word.

Jeanne-Marie Marais van die plaas Uitkyk Domain het met die gesogte titel weggestap.

“Dit was die eerste keer dat ek ingeskryf het nadat die Uitkyk-span my gemotiveer het. Hierdie prys is vir my ’n bewys dat ek op die regte plek op die regte tyd is. Dit bevestig dat die toekoms waaraan ek bou, die regte een is,” sê dié assistent- wingerdbestuurder oor haar toekenning. Marais was ook die afdelingswenner in middelbestuur.

Ander afdelingswenners het Joseph Samuels van Lou­rens­ford ingesluit, wat as die beste junior bestuurder gekroon is. Samuels het die prys aan sy pa, wat die naweek voor die geleentheid oorlede is, opgedra.

’n Emosionele Magriete Engelbrecht, algemene werker van die jaar, het die span van Uitkyk Domain bedank wat haar aangespoor het om in te skryf.

Hoewel Nicholas Tigere (Taaibosch) die tweede naaswen­ner in die tegniese operateur-afdeling was, is hy as die werker met die beste potensiaal om eendag met die Prestige-toekenning weg te stap, aangewys. Die beoordelaars was dit eens dat hulle ’n wonderlike toekoms vir Tigere in die sektor sien.

Die plaas wat die aand met die meeste pryse ontvang het, was Lourensford.

Vanjaar was daar ’n rekordgetal inskrywing vir die dorp. Hierdie deelnemers het almal ingeskryf vir die kategorie van algemene werker van die jaar.Foto: Yaël Malgas

Die top drie manne in die diereproduksie kategorie was Marvin Abrahams, Denovan Daniels en Denzil McKenny. Hier saam met Stellenbosch munisipale raadslid Jerome Thomas. Foto: Yaël Malgas

Die deelnemers in die junior bestuur-kategorie was ’n mededingende groep. Saam het hulle is Porchia Carstens. Foto: Yaël Malgas

Stellenbosch se plase spog met vele vasvatters. Hierdie was die plaaslike deelnemers wat in die voorman en voorvrou kategorie deelgeneem het.Foto: Yaël Malgas

Die deelnemers in die tegniese operateur van die jaar het gesorg vir strawwe kompetisie.Foto: Yaël Malgas

Hierdie is die plaaslike werkers wat in die administratiewe personeel-kategorie meegeding het. Foto: Yaël Malgas

’n Emosionele Magrieta Engelbrecht het haar toekenning vir algemene werker van die jaar van raadslid Joseph Joon ontvang.Foto: Yaël Malgas

Die kategorie van middel bestuur was ’n diverse groep, hier saam met Porchia Carstens.Foto: Yaël Malgas

Die kategorie-wenners van die aand was Riaano Julies (voorman), Galant Ockhuis (drywer), Anneka Pieters (Administratiewe personeel), Magrieta Engelbrecht (algemene werker), Anastashia Fortuin (sosiale ontwikkeling), Denzil McKenny (besproeiingspesialis), Jospeph Samuels (junior bestuur) en Barend Daniels (diereproduksie). Foto: Yaël Malgas

Nicholas Tigere van Taaibosch is aangewys as die deelnemer met die “beste potensiaal” en is ’n agri-werker om dop te hou. Sy pryse is deur die Kaapse Wynland se burgemeester, dr. Helena von Schlicht, saam met Darryl Jacobs (adjunkdirekteur-generaal van die Wes-Kaapse departement van landbou), Piet Carinus (voorsitter van die Stellenbosse Landbougenootskap), en Arnold Minnie (Shoprite) oorhandig.Foto: Yaël Malgas
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.