Opvoerings van hoërskoolleerders se dialoë met die jong akteurs word tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees op die planke gebring.
Hierdie opvoerings spruit uit die provinsiale onderwysdepartement wat hande geneem het met die Proscenium-dramakompetisie, wat vanjaar vir hoërskoolleerders van gr.8 tot gr.12 aangebied is.
Die departement brei die kompetisie uit met ’n projek wat drama-onderwysers se lewe in die klaskamer gerieflik sal maak. Onderwysers sal gratis toegang op die departement se aanlyn hulpportaal tot kort dialoogtekste hê, asook video’s van die opgevoerde dialoë.
Vir dié demonstrasievideo’s is 15 skrywers genader om dialoogtekste te lewer, wat onder leiding van professionele regisseurs opgevoer word. Belowende leerders wat as finaliste in die Proscenium-kompetisie gekeur is, speel in die produksies.
Die tekste en video’s sal van November in Afrikaans, Engels en Xhosa beskikbaar wees. “Die departement wil met hierdie samewerkingsprojek drama- en taalonderwysers, wat ’n behoefte aan hulpmiddels het, ondersteun,” sê Anina Lundie van die departement se kurrikulumdirektoraat.
Die departement werk saam met die Proscenium-dramakompetisie, wat verlede jaar in die lewe geroep is, en drie Wes-Kaapse kunstefeeste: Suidoosterfees, KKNK en die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Dié veeltalige kompetisie het vanjaar 647 inskrywings van hoërskoolleerders ontvang, en ná ’n nasionale uitdunronde het 70 kandidate aan die eindrondes in Kaapstad deelgeneem.
“Die projek is ’n toonvenster vir opwindende nuwe tekste en die akteurs van die toekoms,” sê Herman van der Westhuizen, ’n organiseerder van die Proscenium-dramakompetisie. “Jong deelnemers kry nie net die geleentheid om hul kreatiwiteit op nasionale vlak uit te leef nie; hulle word tydens die kompetisie op opwindende maniere aan die wêreld van die uitvoerende kunste bekendgestel.”
Lundie verduidelik dat die projek opvoeders en leerders in staat stel om direk met die professionele teateromgewing in aanraking te kom. “Die departement streef daarna om opvoeders in die skeppende kunste met opvoedkundige materiaal van hoë gehalte en waarmee leerders van ons inheemse taalgroepe gemaklik voel, te ondersteun. In die senior fase is die voorgeskrewe dialoogwerk ’n ideale medium om leerders se kommunikasievaardighede en kreatiewe ontwikkeling te verskerp. Die samewerking met Proscenium en die kunstefeeste help ons om die aanbod van geskikte dramatekste uit te brei, opvoeders van nuttige demonstrasiemateriaal te voorsien en leerders se lewensvaardighede te verryk.”
- Die gratis opvoerings word van 30 September tot 2 Oktober by die Hoër Meisieskool Bloemhof as deel van die Woordfees aangebied. Meer inligting hieroor is by woordfees.co.za beskikbaar.