’n Groep jongmense van die Andrew Young-sentrum vir Wêreldwye Leierskap (AYCGL) van Morehouse Kollege in Atlanta Georgia, VSA, het ’n besoek aan Abbasorg in Stellenbosch gebring.


’n Besoek van ’n groep jongmense van Amerika het kinders se dag by Abbasorg in Stellenbosch gemaak toe hulle die kinders se klaskamers opgetooi het.

Die besoek van die groep van sowat 16 jongmense van die Andrew Young Sentrum vir Wêreldwye Leierskap (AYCGL) van Morehouse Kollege in Atlanta, Georgia, VSA, was deel van die Oprah Winfrey Scholars Program (OWSP).

Die besoekers het tyd met die kleuters deurgebring en aktiwiteite met hulle gedoen en sop uitgedeel, asook klaskamers geverf.

Dr. Jann Adams Hoof van die OWSP en AYCGL sê hierdie besoek was sodat die studente voorbeelde en maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika kan ervaar en om uit ander gemeenskappe te leer.

“Hierdie besoek het baie vir ons kinders beteken. Dit was hul eerste besoek en eerste kennismaking, so ons verhouding is nog in die beginstadium, maar ons weet ons gaan ’n lang pad stap,” sê Juanita Jacobs, hoof van Abbasorg. Jacobs sê die groep se besoek het weer die lig op die organisasie se behoeftes gewerp. “Van ons grootste behoeftes is die aankoop van kos vir kleuters vir twee gebalanseerde maaltye per dag, met snoepgoed of vrugte as ons dit op die dag het. Die groot fotostaatmasjien en papier is ook een van ons grootste uitdagings omdat ons kinders ’n leerprogram aanbied van 08:00 tot 14:00 elke dag,” voeg sy by.

Jacobs sê hulle het ook behoefte aan geld om kleuters op opvoedkundige uitstappies te neem. “Ons begroting is baie klein so kos en dag tot dag aktiwiteite kry prioriteit. Ons kinders het groot behoefte aan warm klere, skoene, komberse en veral opvoedkundige speelgoed en sagte speelgoed.”

You need to be Logged In to leave a comment.