Kinders van Stellenbosch het verlede Donderdag 13 Maart hul eie viering van die Cape Epic-fietstoer gehad toe hulle nuwe bergfietse vir ‘n rit in die Polkadraai-fietspark geneem het.
Die plaaslike leerders is deel van die Anna-stigting wat kinders help met “reading, running and righting”. Volgens Anna Brom, wat twee dekades terug die stigting begin het, sal die 49 splinter nuwe fietse vir die kinders van die stigting se 22 programme gebruik word. Die fietse is deur die Iron Man-stigting geskenk en met behulp van die Cape Epic-fietsren, ‘n jare lange ondersteuner van die organisasie, oorhandig.
“Sonder ons wonderlike vennote sou ons nie hierdie werk vir 20 jaar kon doen nie,” vertel Brom.
Brom en haar span werk met oorwegend plaaskinders van Stellenbosch en Paarl tot in die Langeberg en so ver as Bonnievale. Jaarliks help hulle sowat 850 kinders met leesprogramme, fiksheid en ontwikkeling. Die programme help ook om 55 vroue werk te gee.
“Die doel is om kinders holisties te help ontwikkel. Benewens die opvoedkundige werk wat ons met hulle doen neem ons hulle gereeld na fietsrybane en parke soos Polkadraai. Daarom is hierdie skenking so besonders,” sê Brom.

“Die Cape Epic is een van ons oudste vennote en die kinders kry die geleentheid om na die fietstoer te gaan, te sien hoe die fietsryers deelneem en leer meer oor hoe die fietstog werk. Die hoop is natuurlik dat hulle geïnspireer word om eendag self die Epic aan te pak.”
Brinley Salvester (12) van Devonvallei Primêr sê hy was bietjie senuweeagtig oor die kronkelende fietsroete, maar toe hy eers op die baan kom het hy dit baie geniet. Hy sê by die Anna-stigting leer hy en sy maats meer oor respek, hoe om te luister en saam speel hulle speletjies.
Veral vir Kiara Barends (10) was dit ‘n groot dag, want sy het leer fietsry. Met die hulp van Sean Wilson, wat Sondag (16 Maart) die Cape Epic-tog aangepak het, het Kiara probeer regop bly en trap. Hoewel dit haar eerste dag van fietsry is, het sy gesê sy wil beslis weer die fietspark besoek.
Audra Tassonc, direkteur van die Iron Man-stigting, het tydens die oorhandi-
ging gesê die stigting sal oor die volgende vyf jaar $50 000 aan die Cape Epic-gemeenskap skenk as deel van hul strewe om voedsoolvlak-projekte te help.

You must be logged in to post a comment.