Die jare lange tradisie van die Stellenbosch- jongwynskou is verlede week voortgesit toe die 14 streekwenners tydens ’n geleentheid by die Kleine Zalze-restaurant aangewys is.
Stellenbosch is deel van die nasionale jongwynskou, wat reeds in 1833 begin het.
De Wet Viljoen, die voorsitter van die Stellenbosch-jongwynskou, sê die 2022-oesjaar hou baie belofte in en die wyne vertoon besonders goed terwyl mededinging vanjaar baie sterk is.
“Altesaam 16 kelders het vanjaar ingeskryf en 134 inskrywings is ontvang teenoor verlede jaar se 15 kelders met 130 inskrywings.”
Altesaam 14 trofeë is vanjaar oorhandig met Flagstone Winery en Benguela Cove wat met die twee toppryse weggestap het. Flagstone was die groot wenner vir die Vinfruco-trofee as die algemene kampioen- rooi tafelwyn en Benguela Cove het die Grotto-trofee vir algemene kampioen- wit tafelwyn ontvang.
Benguela Cove het met altesaam vier trofeë weggestap en Flagstone met drie.
- Benguela Cove se trofeë sluit ook in
Michelle Waldeck van Benguela Cove sê hulle is baie trots op hul prestasie in vanjaar se kompetisie.
“Die jongwynskou is gewoonlik die hoogtepunt van ons kompetisie-seisoen en ons is bly ons wyne het vanjaar so goed gedoen. Die chardonnay wat gewen het, is gewis een van ons gewilde wyne en is al in ons proelokale uitverkoop.
“So, ons is baie trots daarop,” voeg sy by.
Flagstone is ook beloon met die Stellenbosse Wynroete Koöp Bpk-trofee vir kampioen-pinotage – hout (klas 71-5) en Bakke Industrie-trofee vir kampioen- ander rooi kultivar (klas 67-12).
“Dit is altyd lekker om vir jou harde werk beloon te word, en aangesien dit almal nuwe wyne is, is dit lekker om te kan sien hoe jou nuwe wyn in vergelyking met die ander jongwyne vaar,” het Mia Boonzaier, van Flagstone gesê.
“Die pinotage is een van ons gewilde wyne, dus was ons nie té verbaas toe dit wen nie.”
Die jongwynskou se vereistes is hoog.
“Ons kies slegs goue wyne as wenners – dus, indien daar geen goue wenners in ’n klas is nie, is daar ook nie ’n kampioen nie,” sê Viljoen.