Sy is streng, vir almal soos ’n ma en verduidelik die werk baie deeglik en vir dié groep gr. 7-leerders van Pniel Primêr is daar geen twyfel dat sy die beste onnie in die hele wêreld is nie.
Ná 27 jaar in die onderwys is Quintilian Solomons se passie vir dié beroep net so sterk soos die dag toe sy die eerste keer by haar klas ingestap het. “Ek is baie lief vir kinders en hul opvoeding is vir my baie belangrik – ek is bly dat ek deel kan wees van so ’n belangrike vlak in ’n kind se lewe,” sê sy.
“Ek kry klas by haar vandat ek in gr. 4 is en sy gee regtig beter les as enigiemand wat ek ken. Sy is ook iemand wat baie erg is oor netheid,” sê Francois Philander.
Vir Kesha Louw, ook in gr. 7, is sy alles in een. “Sy is snaaks, streng, laat jou altyd tuis voel in die klas en jy weet altyd hier kan jy vrylik praat,” sê Louw.
Solomons sê die beroep is nie sonder uitdagings nie. “Oor die jare heen het ek moeilike dae, maar ook goeie dae gehad. Mense kan ook baie negatief wees teenoor die beroep, maar my omgee vir die kind in die geheel dryf my elke dag om my werk met passie en oorgawe te doen.”
Met hul laerskoolloopbaan byna aan die einde, gaan Jade Volmink en Courtney Swartz hul gunstelingjuffrou Quintie die meeste mis. “Ons is bly daar is darem een dag wat ons haar kan eer,” sê Swartz.