Junior spanne op eerste rugbytoer

Die junior spanne van die Kylemore-rugbyklub is Vrydagoggend (2 Augustus) deur die gemeenskap op ’n bus geplaas vir die groep se toer na Beaufort-Wes.


Die junior spanne van die Kylemore-rugbyklub is Vrydagoggend (2 Augustus) deur die gemeenskap op ’n bus geplaas vir die groep se toer na Beaufort-Wes.

Jong rugbyspelers het die afgelope naweek in hul onderskeie o.10- o.12-, en o.18-spanne teen John D. Crawford Primêr en die Bastiaanse Sekondêre Skool gespeel. Vir baie van die jong spelers was dit hul eerste toer en die eerste keer weg van die huis op ’n toer.

Volgens Desmaree Adams kon haar jonger broer, CJ Basson (14), nie wag vir die dag wat die groep vertrek nie. Adams sê hy was vreeslik opgewonde vir die geleentheid.

Die plaaslike rugbyklub het besluit om die toer te reël in eer van Aubrey Jacobs, wyle voorsitter van die klub se juniors.

“Hy wou hê die kinders moet die ervaring kry om in Johannesburg te speel, maar Beaufort-Wes is waarheen ons reis. Elke keer gaan ons ’n bietjie verder en ons sal uiteindelik daar kom,” sê Brian Jacobs van dié rugbyklub.

Jacobs, wat nie familie van Aubrey is nie, sê die toer sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van die gemeenskap en die talle borge wat die uitstappie moontlik gemaak het nie.

Aubrey was jare lank by die klub betrokke en wou veral die gemeenskap se kinders deur sport bemagtig en ’n liefde vir sport kweek. Hy is verlede November oorlede en die klub het dit goedgedink om dié toer aan Aubrey op te dra.

As jong man het Aubrey destyds sy Boland-kleure verwerf en ook sy merk in die senior spanne gemaak. ’n Rugbytoer na George is in 2022 aangebied, maar vanjaar was dit baie van die spelers se eerste sport-toer.

Jacobs sê die doel van die toer is nie net om sport te bevorder nie, maar ook om dit as opvoeding te sien en die kinders te sien groei en ontwikkel.

Lloyd Williams, wat nou aan die stuur van die klub se juniors is, sê die toer het baie werk geverg, maar die ondersteuning was besonders.

“Hulle is die klubspelers van môre. Die klub se bestuurskomitee het hard gewerk om die geld in te samel met saamtrekke en om borge te kry. Niemand se bydrae is ongesiens nie en ons waardeer dit alles, synde dit vir die kinders van Kylemore is.”

Sommige klublede het selfs van deur tot deur gegaan om geld in te samel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.