Die Hoër Meisieskool Bloemhof se o.14-tennisspan het verlede naweek aan die Agnes Pauw-tennistoernooi vir eerste spanne in Moorreesburg deelgeneem – en gewen.
“Dis vanjaar die tweede jaar dat die Hoër Meisieskool Bloemhof aan die toernooi deelneem,” verduidelik Jonathan Edmunds, sportbestuurder van tennis.
Die skool se o.19B-span het in 2016 gaan deelneem en die beker verower, maar kon weens die uitbreking van masels nie die 2017-toernooi bywoon nie.
Hoewel hierdie toernooi vir skole se eerste spanne is, het Bloemhof sy o.14-span gestuur om die skool te verteenwoordig aangesien die ander tennisspanne reeds aan verskeie toernooie deelgeneem het. Nie net het die o.14’s hul teenstanders, waaronder Hugenote Hoërskool, Hoërskool Dirkie Uys, Hoërskool Swartland en Paarl Girls’ High verslaan nie, maar hulle het die toernooi só oorheers dat hulle as die wenners gekroon is nog voordat die wedstryde alles klaar gespeel is.
Die Bloemhoffers het met 207 punte teenoor Hugenote, wat met 157 punte tweede was, geëindig.