Red hierdie maand ’n lewe en skenk bloed.
In ’n poging om dit so maklik as moontlik te maak om bloed te skenk hou die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKBS) verskeie geleenthede waar jy kan bloed skenk.
Die WKBS het nou ’n nuwe projek van stapel gestuur om meer skenkers, veral jong mense, te kry om lewensreddende bloed te skenk.
Enigeen van 16 jaar en ouer kan as ’n skenker registreer en hul bloedgroep sal getoets word met ’n vingerprik-toets.
Marike Carli, woordvoerder vir die WKBS, benadruk hulle poging om meer skenkers te kry. “Ons doelwit is om die aktiewe bloedskenkerbasis in die Wes-Kaap te vergroot om 1-2% van die bevolking te weerspieël. Tans het ons net 0,95% aktiewe skenkers, wat ’n uitdaging bied om aan die voortdurende vraag te voldoen,” verduidelik sy.
Indien jy tussen 16 en 75 is, 50 kg of meer weeg, goeie algemene gesondheid het en ’n veilige seksuele leefstyl lei, kan jy bloed skenk. Bloedskenking is veilig en pynloos, met slegs 475 ml wat binne 24 uur getrek en vervang word. Skenkers word aangeraai om ’n stewige maaltyd binne drie tot vier uur te eet voordat hulle ’n kliniek besoek en om hul vloeistofinname voor, tydens en na skenking te verhoog. Bloedskenking neem net 30 minute van jou tyd, en jy kan elke 56 dae bloed skenk.
Jy is iemand se tipe; bloedgroep, dit wil sê. Doen iets merkwaardigs: skenk bloed.
- Dinsdag 5 Maart: Voice of the Cape Studio (Soutrivier) tussen 09:00 en 15:00
- Woensdag 6 Maart: 3 Arts Village vanaf 10:00-14:00
- Vrydag 8 Maart: Haasendal Gables vanaf 11:00-14:00
- Vrydag 8 Maart: Kenilworth-sentrum vanaf 10:00-14:00
- Saterdag 9 Maart: Laerskool Kirstenhoff vanaf 09:00-14:00
- Woensdag 12 en Donderdag 13 Maart: Cape Gate Mall vanaf 10:00- 14:00
- Vrydag 15 Maart: Ottery-sentrum vanaf 10:00-14:00
- Vrydag 15 Maart: Blue Route Mall vanaf 10:00-14:00
- Dinsdag 19 Maart: N1 City Mall oorkant MTN vanaf 10:00-14:00
- Woensdag 20 Maart: Bayside Mall vanaf 10:00-14:00
- Woensdag 27 Maart: Willowbridge Mall vanaf 11:00-14:00
- Donderdag 28 Maart: Tuinesentrum vanaf 10:00-14:00
Hou die Wes-Kaapse Bloeddiens se sosiale media-platforms dop vir enige veranderinge of toevoegings.
Vir meer inligting of om jou naaste bloedskenkkliniek te vind, besoek asseblief www.wcbs.org.za, laai die WKBS-toepassing af, of stuur ’n WhatsApp na 060 549 7244.