Selfondersoeke, vroeë opsporing en doeltreffende behandeling – dít is volgens Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, die noodsaaklikste stappe in die bestryding van borskanker – die kanker wat die meeste onder Suid-Afrikaanse vroue gediagnoseer word.
Wyngaard het Sondag 22 Oktober by die Eikenhof-landgoed buite Stellenbosch as ondersteuner en gasspreker by The Pink Affair-geldinsamelingsgeleentheid opgetree. Hierdie geleentheid is gehou ten bate van borskankeroorwinnaars en as deel van Borskankerbewustheidsmaand, wat jaarliks in Oktober aangebied word.
Wyngaard het onder meer mense wat borskanker oorleef het, vir hul moed en positiwiteit geprys. “Dit is belangrik dat elke vrou weet hoe om ’n selfondersoek te doen en wat die daaropvolgende stappe is, sou sy iets opspoor,” het hy benadruk.
Die Suid-Afrikaanse musiekprys- (Sama) en Aitsa-benoemde sangeres en liedjieskrywer Jodi Jantjies, sowel as The Voice SA se Anslin Gysman en die Afrikaanse R&B-sangeres Renay Love Notes, was onder die kunstenaars wat gaste by dié pienkgeleentheid vermaak het. Altesaam R50 000 is by dié geleentheid vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) ingesamel.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se navorsing toon ook dat meer as 14% van alle kankergevalle wat in 2020 in Suid-Afrika onder mans én vroue aangeteken is, borskankergevalle was. Nagenoeg 27% van alle kankerdiagnoses onder Suid-Afrikaanse vroue is borskankergevalle.