Die volgende Stellenbosch- internasionale kamermusiekfees vind van Vrydag 5 tot Sondag 14 Julie plaas.
Verlede jaar se fees was ’n groot sukses, met 29 hoog aangeskrewe kunstenaars wat 257 studente geïnspireer, afgerig en saam met hulle opgetree het. Die studente was van sewe verskillende lande, en die meeste was Suid-Afrikaners. Altesaam 91 van hulle het vir volle of gedeeltelike beurse gekwalifiseer om aan die fees deel te neem.
Naas ’n aantal ou bekendes sal verskeie nuwe personeel vanjaar by die SIKMF optree. Die dirigent Michael Repper, tans die musiekdirekteur van die Ashland Symphony Orchestra, die Mid-Atlantic Symphony Orchestra en die Northern Neck Orchestra van Virginia in die VSA, sal sy buiging maak.
Sy album met die jeugsimfonieorkes van New York, wat eerste opnames van werke deur Florence Price, Jessie Montgomery en Valerie Coleman insluit, is besonder goed ontvang en het die eerste plek op die Billboard Chart sowel as ’n Grammy-toekenning verower.
Dit is die eerste keer dat ’n jeugorkes hierdie toekenning ontvang.
Alombeminde kunstenaars wat weer optree en wat sinoniem met die kamermusiekfees geword het, sluit in die violiste Andrey Baranov, Daniel Rowland en Nicolas Dautricourt, die tjellis Maja Bogdanovic, die fluitspeler Demarre McGill, die hobospeler Dwight Parry en die briljante perkussiespeler Jauvon Gilliam. Die plaaslike klavierdosente Luis Magalhães, Pieter Grobler en die fees se artistieke direkteur, Nina Schumann, sal ook weer hul plek volstaan, naas nuwelinge soos Fedor Belugin, die violis van die David Oistrakh Kwartet, en die kontrabasvirtuoos Roman Patkoló.
Die aanlyn studenteportaal https://www.sicmf.co.za/online-entry/ is nou oop en studente wat voor Vrydag 16 Februarie registreer, kwalifiseer vir ’n spesiale aanbod van R6 000 vir die volledige pakket van 10 dae (insluitend verblyf en maaltye) of R3 600 vir volle deelname sonder verblyf en maaltye. Die volle prys, onderskeidelik R6 600 of R4 000, sal van Saterdag 17 Februarie af betaalbaar wees.
Besoek www.sicmf.co.za vir nog besonderhede of stuur ’n e-pos-navraag na die feesdirekteur by martensp@sun.ac.za.