Die groot gewag is verby – die bekroonde Suid-Afrikaanse Kaasfees keer vanjaar terug na Stellenbosch met nuwe datums én nuwe eienaars.
Die Sandringham-landgoed is vanjaar die gasheer vir dié buitelug- kulinêre geleentheid in die Erfenisdag-langnaweek van Vrydag 22 tot Maandag 25 September.
Die nuwe feeseienaars, ’n konsortium private beleggers en die DGTL Marketing Group, het die gewilde fees herontwerp om ’n vier dae lange viering rondom kaas, wyn en vermaak vir die hele gesin te skep.
Die SA Kaasfees, wat bekend is as Suid-Afrika se enigste kaas-gefokusde geleentheid, is reeds sedert 2002 as ’n tradisie in die Kaapse Wynland gevestig.
Die nuwe eienaars beskik oor uitgebreide kundigheid in die organisering, bemarking en aanbieding van leefstylgeleenthede oor die land heen, wat die SA Kaasfees nuwe hoogtes sal laat bereik.
Besoekers kan ’n uitmuntende ervaring verwag met nuwe lewe wat in die fees geblaas word.
SAKEsessies, ’n Vrydagaand-musiekfees en ’n karnaval-temapark
Die SA Kaasfees sal Vrydag 22 September met besigheid-tot-besigheid (B2B) gefokusde sessies begin om handel tussen uitstallers en kopers van groot kleinhandelwinkels aan te moedig.
Die fees open dan amptelik met ’n musiekfees op die Vrydagaand.
Oor die langnaweek – Saterdag 23 tot Maandag 25 September – sal meer as 150 uitstallers die publiek verwelkom met net die beste kaas-aanbiedinge, asook ’n veelsydige keuse van ander kossoorte en ’n verskeidenheid wyn- en boetiekbier-handelsmerke.
Gewilde plaaslike kunstenaars sal musiek maak, terwyl topklas-kindervermaak en karnaval-styl pretpark-aktiwiteite vir die hele gesin opgedis sal word.