Inwoners in die omgewing van Moffatstraat in Idasvallei is die afgelope maand gereeld in die donker gelaat en moes by tye vir bykans 24 uur sonder krag klaarkom weens kabeldiefstal.
Gereelde voorvalle van kabeldiefstal en vandalisme vind plaas tydens beurtkrag, veral laat in die nag wanneer ’n blok se elektrisiteit af is. Dit is nie uniek aan die Stellenbosch-munisipale gebied nie, maar kom oor die land heen voor tydens beurtkrag-ure.
In ’n onlangse voorval in Cloetesville het ’n kragsubstasie aan die brand geslaan en die buurt vir meer as 24 uur sonder krag gelaat. Eskom het die oorsaak aan diefstal en vandalisme toegeskryf.
“Die voortgesette diefstal en vandalisering van Eskom-toerusting en kritieke infrastruktuur het ’n ernstige invloed op die kragvoorsiening aan klante in Stellenbosch en omliggende gebiede,” het Eskom tóé gesê.
In Moffatstraat en omgewing is 16 diensverbindings die afgelope maand tydens nagtelike beurtkrag deur misdadigers afgesny en gesteel. Dié misdadigers is ook in Lindley-, Bloekom-, Moses-, Jufferenburg- en Dahliastraat bedrywig.
Volgens Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder, doen die munisipaliteit alles is sy vermoë om die probleem op te los, maar kan dit nie sonder die gemeenskap se hulp bekamp nie.
“Die munisipaliteit se reaksie op hierdie voorvalle is tweeledig – reageer met wetstoepassing om die oortreders vas te trek en reageer met elektriese spanne om infrastruktuur te laat herstel en toevoer te herstel,” sê Grobbelaar.
Hy voeg by dat in sommige gevalle waar kiosks herbedraad moet word, kan dit baie langer neem om te herstel. “Om ’n kiosk te herstel, kan tot vier uur neem en kos tussen R4 000 en R5 000 per kiosk.”
Grobbelaar sê wetstoepassers sal sigbaarheid in die gebied verhoog, maar hulle kan ongelukkig nie permanent op dieselfde plek gestasioneer word nie. “Ons moedig dus inwoners en mense met inligting oor hierdie kriminele aktiwiteite aan om ons munisipale beheerkamer te kontak wanneer hulle onmiddellik kabeldiefstal sien of vermoed.”
Hy sê verder koperdiensverbindings word deur aluminiumkabels vervang om koperdiewe te keer om die infrastruktuur te steel.