Die Stellenbosch- internasionale kamermusiekfees vind van 5 tot 14 Julie in die konservatorium van die Universiteit Stellenbosch plaas.Foto: Carmen Reynolds Photography

Credit: Carmen Reynolds Photography

Die Stellenbosch- internasionale kamermusiekfees (SIKMF) vind van Vrydag 5 tot Sondag 14 Julie in die Konservatorium van die Universiteit Stellenbosch plaas.

Die gewilde aandkonserte kan in die Endlersaal bygewoon word.

Daarbenewens sal die nagenoeg 300 deelnemende studente elke dag om 13:00 en 17:00 in die Fismersaal in ’n groot verskeidenheid kamermusiekensembles te hore wees.

Musiekliefhebbers sien altyd met groot verwagting uit na die bekendstelling van die aandkonsertprogram van die SIKMF. Die artistieke direkteur, Nina Schumann, het die laaste tyd baie hard gewerk om vanjaar se program saam te stel. Soos voorheen bied die personeelkonserte weer ’n aantreklike musikale spyskaart met internasionaal bekende kunstenaars in verskillende kombinasies.

Vir liefhebbers van Barokmusiek is daar Vivaldi se konsert vir viool, tjello en strykorkes, met die vermaarde Daniel Rowland (viool) en Maja Bogdanovic (tjello) as soliste.

’n Verwerking van Beethoven se vierde klavierkonsert, wat uit die komponis se leeftyd dateer, sal die eerste keer in Suid-Afrika deur die bekroonde pianis Emanuil Ivanov uitgevoer word.

Ivanov, wat verlede jaar groot indruk op plaaslike gehore gemaak het, het internasionaal aandag getrek toe hy in 2019 die Feruccio Busoni-klavierkompetisie in Italië gewen het.

Die laat-Romantiek word verteenwoordig deur Dvorák se tweede klavierkwintet, Saint-Saëns se Caprice vir blaasinstrumente en klavier, en die monumentale klavierkwintet in G-mineur deur Tanejef.

Die SIKMF-feesorkes en die SIKMF-konsertorkes sal in die laaste drie konserte van die fees optree. Michael Repper sal Borodin se groot tweede simfonie saam met die feesorkes uitvoer.

Hulle sal daarbenewens die duo Andrey Baranov en Boris Andrianov Vrydag 12 Julie in ’n uitvoering van Brahms se Dubbelkonsert begelei, terwyl hulle Sondag 14 Julie Bartók se Altvioolkonsert saam met Jennifer Stumm sal speel.

  • Besoek www.sicmf.co.za vir meer inligting en die volle program.
  • Kaartjies vir die konserte is by Webtickets beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.