Die Cape Chamber Music Collective (CCMC) met twee van sy bekendste musici – die pianis Francois du Toit en die violis Farida Bacharova – tree saam met drie opwindende jong instrumentaliste, David Pinoit (tjello), Bonolo Kgaile (viool) en Uliana Alekseev (altviool) môre (Vrydag 8 April om 19:00) by die NG kerk-saal op.
Die CCMC doen uitvoerings van Dvorák se kamermusiekmeesterstuk, die “Klavierkwintet Nr. 2” in A-majeur, asook minder bekende werke van Sjostakowitsj en Kodály.
Sjostakowitsj se “Vyf stukke vir Twee Viole en Klavier”, soos verwerk deur Lev Atovmyan, is gebaseer op Sjostakowitsj film- en balletmusiek. Die komponis is destyds weens sy onguns by die Sowjet-owerhede gedwing om vir hierdie mediums te komponeer.
Tweede op die program is “Duo vir Viool en Tjello” van Kodály. Kodály was passievol oor Hongaarse volksmusiek en dié komposisie het ’n sterk sigeunergevoel.
Die program sluit af met Dvorák se meesterstuk, sy “Klavierkwintet Nr. 2” in A-majeur. Hier vermeng die komponis sy verleidelike en liriese sjarme met sy voorliefde vir Boheemse volksmusiek.
Dié program is die derde aanbieding van die CCMC in konserte in en om Kaapstad vanjaar. Die konsert word deur die Cape Town Concert Series aangebied.
Kaartjies kos R200, R160 vir pensioentrekkers en R80 vir studente.
Die Cape Chamber Music Collective (CCMC) is ’n unieke en innoverende inisiatief wat hom ten doel stel om kamermusiek van ’n hoë gehalte aan gevestigde gehore te bring, asook om klassieke musiek aan nuwe gehore bekend te stel. Verder ondersteun die CCMC plaaslike musici en bied mededingende fooie aan hulle. Sy programme gee aan jong musici die geleentheid om saam met gevestigde en professionele musici op te tree.
Alle kaartjies kan bespreek word deur Ouicket via die CCMC-webtuiste www.capechambercollective.com.