Kampus-fietsry vergemaklik

Die nuutgestigte Ride a Bike-projek poog om dit makliker en toegankliker te maak vir Maties om op kampus fiets te trap.


Die nuutgestigte Ride a Bike-projek poog om dit makliker en toegankliker te maak vir Maties om op kampus fiets te trap.

Tendani Shauambea, ’n studenteleier aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die projek onlangs in samewerking met die US se organisasie “Senior Leefruimtes” (SLS) en die “Luister, leer en leef”-program (LLL) van stapel gestuur.

Sowat tien studente wat in die US se senior leefruimtes woon, het onlangs hul Matie-fietse deur die projek ontvang. Die Matie-fietse behoort aan die US en kan vir die jaar teen R2 500 gehuur word.

Volgens Shauambea is hierdie bedrag hopeloos te veel vir studente om op te dok en dus het hy die behoefte raakgesien om die projek op die been te bring.

“Die hoofrede vir die projek was om meer studente by fietsry betrokke te kry, veral omdat baie studente nie juis die geld het om ’n fiets te koop of byvoorbeeld ’n Matie-fiets kan huur nie. Tweedens gaan dit vir my oor toegang en vryheid – en natuurlik ook die opsie om te kan kies tussen ’n omgewingsvriendelike manier om te reis,” het Shauambea gesê.

Volgens die studenteleier word die projek tans deur die LLL en die US se Sentrum vir Studentegemeenskappe gefinansier.

Ethan Conradie, ’n onderwysstudent aan die US wat ook een van die fietse ontvang het, meen hy kan danksy die projek kan nou vinniger by sy klasse uitkom. “Die Matie-fiets is baie gemaklik wanneer ek op kampus is, en juis wanneer ek haastig op pad na my volgende klas is. Ek hou ook daarvan dat dit fisiese welstand en volhoubare vervoer bevorder, en daarmee saam ook ’n goeie stresverligter is,” het Conradie gesê.

Shauambea hoop om nog eksterne vennote te kry om by die projek betrokke te raak en om die fietsry-kultuur in Stellenbosch te vergroot en te bevorder.

“Ek sal in die toekoms graag meer studente betrokke wil kry, veral studente by ander koshuise. Ek hoop ook vir meer ondersteuning van eksterne vennote soos die Stellenbosch-munisipaliteit om die projek uit te brei en vir nog studente meer toeganklik te maak.”. Vir meer inligting of om betrokke te raak, kan Shauamba via e-pos by 20878443@sun.ac.za gekontak word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.