Terwyl meer as 5 500 eerstejaarstudente verlede week op die Stellenbosch-kampus toegesak het, het die filmmaker en mediapersoonlikheid, Renaldo Schwarp, die produksie van sy langverwagte dokumentêre rolprent in dié geskiedkundige studentedorp begin.
Schwarp het sy jongste filmprojek, getiteld “Kampus”, ’n dokumentêre program wat die verwoestende impak van tokisiese kampuskultuur en -tradisies op Suid-Afrikaanse tersiêre instellings blootlê, onthul. Die dokumentêr sal na verwagting in Augustus vanjaar vrygestel word.
Die film, wat die hoogs verwagte terugkeer van Schwarp na rolprentvervaardiging is, delf in die ontstellende werklikheid van rassisme, fuifdrinkery (binge drinking), geslagsgeweld en institusionele vooroordeel op kampusse oor die land heen deur op kundige wyse roerende eerstehandse getuienisse van slagoffers, en hul gesinne, asook insigte van kundiges, universiteitspersoneel en medejoernaliste te weef.
Schwarp is ’n bekroonde multimediajoernalis en uitsaaier wie se 2019 debuutfilm, “Skeef” (wat tans op Showmax uitgesaai word) goeie resensies plaaslik en internasionaal gekry het.
Ná die dokumentêr se debuut het Schwarp ’n gelyknamige topverkoperboek geskryf wat die lig verder op die LGBTIQ+-kwessies in SA gewerp het.
Net soos sy debuut as regisseur, ontbloot “Kampus” ’n belangrike mikrokosmos van die Suid-Afrikaanse samelewing. In die film sal Schwarp brandende vrae aan top-besluitnemers stel terwyl hy al hierdie kwessies in ’n groter sosiale en historiese konteks plaas.
“In sy kern is die film ’n beroep tot aksie vir verandering en ’n kragtige herinnering aan die dringende behoefte aan transformasie in ons universiteite,” sê Schwarp.
Schwarp voeg by dat “baie van die breër samelewingskwessies in Suid-Afrika spruit uit die kwessies wat die meeste universiteite – nie net Stellenbosch nie – in die gesig staar.”
“My hoop is dat “Kampus” as ’n hulpbron vir opvoeders en voorstanders wat werk om kampuskultuur te hervorm kan dien, veral diegene wat belangstel in omstanders-gebaseerde geweldvoorkoming en groter kwessies van ras, geslag, identiteit, vervreemding en om te behoort.”